Die Republiek van Bravoland se e-koerant

Besoek ons by www.bravoland.co.za, hierdie is nie die amptelike webwerf van die Republiek van Bravoland nie.

23 Dec 2008

Vlaglied van Suid-Afrika

Volledige gedig "Ons eie vlag" deur CJ Langenhoven, waarvan die vierde strofe die Vlaglied van Suid-Afrika is:

ONS EIE VLAG

Daar is ander en eie wat opkyk en vra:
Wat beteken jou vlag dan, Suid-Afrika -
'n Lap met 'n skilderpatroon,
'n Vaatdoek wat fladder vir spogvertoon?

Aan die vreemde van ver af wat opkyk en vra:
Wat beteken jou vlag dan, Suid-Afrika -
Sê: Vreemdeling, luister met vriendelikheid:
Die vlag is die beeld van ons majesteit,
Ons nasie se septer, ons volk se kroon,
Die regterhands-waarborg aan al wat hier woon
Dat burger by burger as een man sal staan
Om skoon en onskendbaar te hou daardie vaan;
Aan ander 'n waarskuwing, wie ook kom pla,
Pasop vir die seuns van Suid-Afrika.

Aan kinders van my wat nog opkyk en vra:
Wat beteken jou vlag dan, Suid-Afrika -
Sê: Kinders, hy's julle verbond met mekaar
Om elkeen teen elkeen sy trou te bewaar,
Om elkeen sy eer en sy roem te behou,
Om te voel ons is niemand se minderes nou -
Ons wil is ons eie, ons weg wys so
soos ons self hom baan, onder God daar bo.
Saam sal ons dien, en saam sal ons dra,
Want saam is ons seuns van Suid-Afrika.

Nooit hoef jou kinders wat trou is te vra:
Wat beteken jou vlag dan, Suid-Afrika -
Ons weet hy's die seël van ons vryheid en reg
Vir naaste en vreemde, vir oorman en kneg;
Die pand van ons erf'nis, geslag op geslag,
Om te hou vir ons kinders se kinders wat wag;
Ons nasie se grondbrief van eiendomsland,
Uitgegee op gesag van die Hoogste se hand.
Oor ons hoof sal ons hys, in ons hart sal ons dra,
Die vlag van ons eie Suid-Afrika.

13 Dec 2008