Die Republiek van Bravoland se e-koerant

Besoek ons by www.bravoland.co.za, hierdie is nie die amptelike webwerf van die Republiek van Bravoland nie.

1 Sept 2007

Die Bravolander - September 2007

Laai die volledige September-uitgawe in PDF-formaat hier af:
Die Bravolander - September 2007


Die Republiek van Bravoland

Deur FRANCOIS COETZEE


Wat is Bravoland?

Bravoland is ’n tuiste waar ons as Afrikaners ons Boere-erfenis kan vier en nie ’n duim hoef terug te deins vir enigiemand nie.

Bravoland is ’n onbegrensde, selfstandige, selfregerende republiek – uitgeroep op die internet! Die Monte Video-konvensie bepaal dat mens grond nodig het vir ’n republiek, maar ons sê dat ons eers die prosesse en strukture in plek moet kry voordat ons ons voorberei op territoriale selfbeskikking.

Ons is Bravoland en ons is selfregerend!

Agtergrondskets
Bravoland het as ’n loslit tong-in-die-kies geselsery op ’n internetgeselsforum begin. Die gedagtes het later, soos dit maar in ons Westerse denke ingemessel is, in die rigting van selfregerend beweeg. . .

Bravo Kompanie wou ’n president verkies om die hoof van hul kuber-paradegrond te wees. Bravoland wou ’n staatshoof hê om die hoof van Bravoland te wees. Nominasies is ingewag en ’n algemene verkiesing is gehou.

Die uiteinde? Bravoland het ’n president verkies. Die begin van onafhanklikheidsdenke. Die toekoms wink daar voor!

Nuwe grondgebied

’n Ongemaklikheid het ontstaan rondom die “tuiste” van Bravoland en soos dit uiteindelik sou verloop, het Bravoland getrek. Bravoland sou dus van nou af volkome onafhanklikheid geniet.

Deur die Trek te onderneem, het Bravoland ’n ultimatum aa

n die wye wêreld gerig: “Ons gaan onsself regeer en ons gaan dit regkry. Hou gerus dop.”

Saam met die nuwe ywer en deursettingskrag het daar ook verantwoordelikhede gekom. Skielik het die besef ook vorendag gekom dat ons in Bravoland soos rentmeesters moet optree – nie net oor ons eie sake nie, maar ook oor dié van ons mede-volksgenote.


Klein treë, groot gedagtes


Met die rentmeestersingesteldheid het Bravoland die volgende stap bereik: Die daarstelling van ’n regeringsliggaam om die president te help met die bestuur van die land en om die administrasie meer effektief te kan behartig.

Die Republiek het toe “uit die volk, vir die volk” ’n Volksraad verkies. ’n Selfstandige regerings-liggaam vir die vryheidsliewendes.

Die volgende tree vir ’n Republiek is vanselfsprekend nasionale simbole.

Bravolanders het weereens nie gras onder hul voete laat groei nie en daarom het ons ons eie nasionale vaandel: Die Triomfvlag!

Ons is verder besig om ontwerpe van ’n landswapen en voorstelle vir ’n volkslied in te wag. . . Ons is ERNSTIG!

Ek sluit af met ’n deel van ’n legende wat my na aan die hart

lê. Dit is vir ons almal ’n waarskuwing en motivering.


’n Ou legende

Prins Siegfried van die Lae Lande was, volgens ’n epiese Germaanse gedig wat later ook legende geword het (of dalk anders om. . .), ’n persoon wat nooit te

ruggedeins het vir gevaar nie.

Alles was vir hom ’n uitdaging. . . Meer nog, hy kon nooit genoeg kry van avonture nie. Hy was altyd op die uitkyk vir avontuur.

Dit was die rede waarom hy sy ouers vir ’n tyd lank verlaat het om die skat van die koning van die Nibelunge (dwerge wat onder die grond gebly het) te gaan soek. Dit was die grootste skat wat die aarde nog gesien het.

Daar was egter een vangplek, dit was bewaak deur die draak Fafnir, en menige mense het hulle dood tegemoet gegaan om te probeer om dié skat te gaan haal.

Maar, ná jare se oefening en met ’n uiters goeie swaard, het Siegfried daarin geslaag om die draak dood te maak en die skat vir homself te neem.

Maar dit het gekom teen ’n prys – die draak het ’n ring gehad wat ’n mens uiters jaloers en hebsugtig maak. Siegfried het hierdie ring vir homself geneem teen alle waarskuwings in.


(Die draak was self eens op ’n tyd ’n man wat die koning van die Nibelunge vermoor het en sy skatte gesteel het. Die koning het egter voor sy dood ’n vloek oor die ring uitgespreek wat veroorsaak het dat die man oor die jare in ’n draak verander het.)

Dit het beteken dat Siegfried vir ’n tyd lank net eersugtig was. Gelukkig het latere gebeure daartoe gelei dat hy die ring vir iemand anders gegee het wat sy tydelike redding was.

Tot hier die vertelling. . .


Kontemporêre toepassing

Elkeen van ons, “vors of vorstin”, is nou ’n avontuur voor die oë gestel. Ons wil Bravoland maak werk, is dit nie waar nie?

Net weer eens die vriendelike waarskuwing dat die roete van die draak gevolg kan word as u dink dat u nou die “besitter van die ring” is. Daar is heelwat Siegfrieds wat in die tou staan vir die dag (en sou die Here dit behoed) dat selfs ’n burger in ’n draak verander.

Roep die waarskuwing altyd in u gedagte op as u ’n nuwe roete wil volg, maar moenie bang wees om u standpunt te verdedig nie!

Dit is ’n geweldige taak wat aan u opgelê is, sowel as ’n heerlik

e voorreg. . . Maar, soos in Nehemia se tyd sal ons slegs suksesvol wees as ons die Here aanroep om ons skild en redding te wees, maar steeds met die spies in die een hand die mure bou.

Dus, steun op Hom om jou te help bou aan die toekoms!



Die amptelike vlag van die Republiek van Bravoland - DIE TRIOMFVLAG: Barend Uys en Francois Coetzee.

************************************************************


Nasionalisme is in ons bloed Deur CLEM DE KLERK


DIT is en bly moeilik om nasionalisme, en veral volksnasionalisme, helder en omvattend te definieer – veral omdat die begrip by ons volk so intens beleef en diep geanker is in die volksiel.

Nasionalisme bestaan reeds sedert volksplanting – die koms

van Huge-noot en Geus het ’n rigtinggewende invloed uitgeoefen rondom ons nasionale trots. Dit het in ons volk op besondere wyse verdiep tot ’n eie, unieke, saambindende volksgevoel wat ondefinieerbaar is.

Nasionalisme is ’n allesomvattende begrip soos wat kultuurwaardes inklusief bind en eksklusief vormend inwerk sonder om van die dieper-liggende waardes en kragte te verloor.

Nasionalisme strek wyd oor die volksakker en maak van ’n volk ’n besondere groep mense wat eenders doen, eenders beleef en verstaan, en glo omdat dit in die gees en hart van die volk ingraveer word deur die gang van sy bestaan.

Volksnasionalisme is die spieël-beeld van die volksiel – weerspieël sy kragte en vermoë om dit wat sy eie is te beskerm, te handhaaf, te koester en te versterk.

Nasionalisme wek trots, skep nuwe visioene en vestig hoop op die toekoms.

Wanneer nasionalisme vervaag in die gees en siel van ’n volk, verdwyn volkswil, taan sy geloof, versplinter sy liefde vir vryheid en lei dit tot selfvernietiging.


Ons liefde vir ons kultuurwaardes, volksgeskiedenis, ons trots en adel ­– dit alles word opgevang in die woorde van ons volksliedere. Nasionalisme rig ons lewens en ons opvattings, geskoei op die waarheid van die onfeilbare Woord van God Drie-Enig, en kristalliseer uit tot ongekende dinamika op die ganse volksakker.

Om bovermelde toe te lig kan ons met sekerheid en sonder vrees vir teenspraak verklaar dat nasionalisme telkens na vore kom wanneer ons voortbestaan bedreig word. Hiervan is daar vele voorbeelde uit die geskiedenis, soos die Slag van Bloedrivier en wat dit voorafgegaan het, net so dieper liggend is die koms van Volksrepublieke, en uiteindelik die samevoeging tot ’n groter en hegte nasionale eenheid met die vestiging van die Republiek van Suid-Afrika.


Die vele geloofsdade wissel van dapper helde soos ’n Rachel de Beer tot verby ’n Danie Theron, van hartoorplanting tot kernkrag ontwikkeling, dit alles spreek van bewustelike en onbewustelike volksnasionalisme, want dit is ingebed in die wese van ons volk.

Daardie nasionalisme moet ook veranker in die denke en wese van die opkomende geslagte.

Om dit te verwerklik sal ons verantwoordelikheid wees en bly, want ons mag nie net roem op die verlede nie, maar ook bly hoop op die toekoms wat wink.

In nederigheid voor die Almag van God, word ons geroep om ons nasionalisme lewend te hou op die pad na vryheid van die volk wat Hy hier geplant het om ’n roeping te vervul.

**************************************************************


Geen keer aan Bravoland Volkshulp

Deur CHRISTA BURGER


BRAVOLAND Volkshulp is die departement wat ons as Bravolanders seker die naaste aan die hart lê. Die departement poog om volksgenote by te staan in tye van nood, asook opheffing.
In Bravoland se vier maande lange bestaan het Bravoland Volkshulp reeds verskeie aksies geloods en met sukses volksgenote gehelp. Miskien nie met iets groots nie, miskien nie volhoubaar nie, maar wel op so ’n manier om persone vir ten minste een dag nie te laat wonder oor wat hy/sy daardie betrokke dag gaan eet nie.

Aksies wat al met sukses geloods is, is ’n bewys van hoe groot die nood werklik is en dat ons maar net vir ’n druppel in die emmer elke keer sorg. Dit laat ons egter nie moedeloos word as ons na die baie hulpbehoewendes kyk en wonder hoe ons almal gaan help nie, want elke druppel maak op die ou end die emmer vol, al neem dit hoe lank.

Ons heel eerste aksie was gehou op 9 Junie 2007 in Wolmer (Ops Wolmer), waar ons kos, klere en komberse aan die hulpbehoewendes gaan uitdeel het. Dan het ons op 14 Julie 2007 in Parys vir Tannie Corrie (Ops Grenspos) gehelp deur vir haar inwoners elkeen ’n kos-pakkie te gee. Ons derde aksie was weer terug in Wolmer (Ops Wolmer Senior) en het plaasgevind op 18 Augustus 2007, waar ons aan die oumensies in Wolmer elkeen ’n geskenkpakkie met badprodukte gegee het.

Intussen het ons ’n vrou, wat dringend ’n MRI-skandering moes ondergaan, gehelp met fondse. Ons probeer help waar ons kan. Die volks-hulpaksie vir September val saam met die naweek van die Bravoland Bivak Braai (BBB) en ons beplan om behoeftiges in die Koppies-omgewing in die Oos-Vrystaat te help.

Ons beoog om elke maand ’n volks-hulpaksie te loods. Die beplanning is dat ons eenkeer per kwartaal ’n groot aksie doen met twee kleiner aksies tussenin.

Met die Kersaksie wil ons graag van die geleentheid gebruik maak om saam met ander organisasies een groot aksie te loods. Intussen wil ons nog in die Vrystaat, Transvaal en in die Kaapprovinsie draai met ons beplande aksies.

Bravoland Volkshulp is ’n roeping wat elkeen van ons met oorgawe en tot die beste van ons vermoë wil vervul. Soveel so, dat ons nie ons arm volksgenote in ons toekomsbeplanning uitsluit nie. Dit is waar ons volhoubare selfversorging aan ons mede-volksgenote wil bied.

Soos Bravoland Volkshulp se leuse aandui: Gee ’n persoon ’n vis, en hy het kos vir een dag, maar leer ’n persoon om vis te vang, dan het hy kos vir ’n leeftyd.


Cois Conradie verras die Wolmer-kindertjies met skyfies tydens Ops Wolmer.


Wolmer-inwoners en Bravolanders maak kospakkies op.


Sakkie van der Schyff en Francois Coetzee saai regstreeks op Radio Bravo uit vanaf Wolmer.


***************************************************************


Stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners

“Om te staan ver ons Taal, ons Nasie en ons Land”

Deur JOHANN VENTER


“Ek is ’n arme Boerenôi,
By vele min geag;
Maar tog is ek van edel bloed,
En van ’n hoog geslag.
Uit Holland het myn pa gekom
Na sonnig Afrika;
Uit Frankryk, waar die druiftros swel,
Myn liewe, mooie ma.”

Uit: Die Afrikaanse Taal,
deur J. Lion Cachet

En twee strofes uit Die Afrikaanse Volkslied

“ ’n Ieder nasie het syn TAAL,
Ons praat van Kaap tot in Transvaal
Wat almal maklik kan verstaan,
Wat gaan die ander tale ons aan?
Ons praat soos Pa en Oupapa,
Die landstaal van Suid-Afrika.

- - -

Want al die nasies het één God,
Hy regel ieder volk syn lot;
Hy het vir ieder volk syn Taal,
Syn Land, syn Reg, syn Tyd bepaal.
Wie dit verag, sal syn straf dra:
O God, beskerm Suid-Afrika!”


A. Pannevis, C.P. Hoogenhout, D.F. du Toit, S.J. du Toit


Die uittreksels hierbo kom uit poësie wat ontstaan het in die dae van die GRA.

In die geskiedenis van die Afrikaanse taal kan 14 Augustus 1875 beskou word as die aanvangsdatum van die Eerste Afrikaanse Taalbeweging – ’n stroming in ons Afrikaner-geskiedenis wat daarop gerig was om die spreektaal wat aan die Kaap ontstaan het, te bevorder, verder te ontwikkel, te standaardiseer en groter erkenning te laat verkry.

Die idee was ook om aan die taal soveel stukrag te verleen dat die Bybel daarin vertaal sou kon word en dat dit ook as amptelike taal erkenning sou verkry.

Op dié besondere dag, 14 Augustus 1875, 132 jaar gelede, is die Genootskap van Regte Afrikaanders (GRA) in die Paarl gestig. ’n Aantal persone het aan huis van Gideon Malherbe vir ’n vergadering bymekaar gekom om te besluit oor ’n moontlike vertaling van die Bybel in Afrikaans.

Die vergadering waartydens die GRA gestig is, is bygewoon deur persone wat byna almal op daardie stadium op die een of ander wyse reeds hulle stemme laat hoor het vir die vertaling van die Bybel in Afrikaans, of wat later in die Afrikaanse literatuurgeskiedenis bekendheid sou verwerf.

Die agt jong manne wat teenwoordig was, was een predikant, ds. S.J. du Toit (27), twee onderwysers: C.P. Hoogenhout (32) en D.F. du Toit (29) (later bekend as Oom Lokomotief); twee studente: August Ahrbeck (24) en S.G. du Toit (20); en drie wynboere: Gideon Malherbe (42), D.E. du Toit (25) en P.J. Malherbe (22).

Omdat hulle so jonk was, is meermale smalend na hulle verwys as “daardie jong skoolmeestertjies en Dalse wynboertjies”; maar, moontlik om dié verwysing te temper, het hulle egter na hulself as die “agt jôllie kêrels” verwys.

Hulle het egter op dié betrokke dag besluit dat die tyd nog nie ryp was vir ’n vertaling van die Bybel in Afrikaans nie. Een belangrike oorweging was die stand van Afrikaans op daardie tydstip: die taal is wel wyd gepraat, maar daar was nog geen gestandaardiseerde spelreëls of geboekstaafde grammatika nie.

Ook het baie mense nog gedink dat Afrikaans maar net ’n dialek van Nederlands was, of selfs
erger nog, dat die taal eintlik nie in beskaafde geselskap gebruik behoort te word nie.

In die lig hiervan sou ’n Bybelvertaling dus op daardie stadium nog nie die regte ding wees nie, so het die agt manne in die Paarl gevoel, maar die volk sou bewus gemaak en oortuig moet word van die belangrikheid van hulle taal.

In die sewentigerjare van die negentiende eeu was daar ook ’n besondere ontwaking van ’n Afrikaanse nasionale gevoel. Die GRA kom derhalwe in dié besondere klimaat tot stand,
en moet nie as ’n suiwer taal-genootskap beskou word nie.

Van die begin af was dit die doel van die GRA om die Afrikaner se nasionale belange in die algemeen te bevorder. In artikel II van die “Algemene Bepalings” word die doel van die GRA geformuleer as “om te staan ver ons Taal, ons Nasie en ons Land”. Die Afrikaanse taal sou egter die middel wees om die belange van die Afrikaner te bevorder.

Gedurende die beginjare van die GRA was dit veral ’n klein groepie intellektuele (hoofsaaklik in die Paarl woonagtig) wat oor die toekoms van die Afrikaner en sy taal besin het, en ook oor
die vraag of die Afrikaner sy eie nasionaliteit en kultuurwaardes in Suid-Afrika sou kon behou, en wat die moontlikhede vir die voortbestaan van die Afrikaner sou wees.

Op 15 Januarie 1876 verskyn die eerste uitgawe van Die Afrikaanse Patriot, ’n blad wat die mondstuk van die GRA word. Dié blad het baie gou gewild geword onder die breë Afrikanerbevolking in die Kaap, en baie belangrike Afrikaanse literatuur van voor 1900 het in dié blad verskyn (onder andere Die Afrikaanse Taal en Die Afrikaanse Volkslied) . . .

Aanvanklik het die GRA baie groot teenstand ondervind in sy stryd om Afrikaans tot skryftaal te probeer verhef.

Die leiers van die GRA het egter altyd erken dat Afrikaans op daardie stadium nog ongevorm
en swak was, en hulle het veral die ondersteuning gesoek van Nederlanders en mense wat Nederlands as amptelike taal vir die land ondersteun het.

Enkele publikasies van die GRA is die volgende: Eerste beginsels van die Afrikaanse taal (1876), later uitgebrei tot Fergelykende taalkunde fan Afrikaans en Engels (1897); Die geskiedenis van ons land in die taal van ons volk (1877); sewe versamelings van Afrikaanse gedigte uit Die Patriot en die Almanak; die Eerste Afrikaanse printjies boeki ver soet kinders (1879) deur C.P. Hoogenhout.


Bronne

Kannemeyer, J. C. 2005. Die Afrikaanse literatuur 1652-2004. Pretoria: Human & Rousseau.

Opperman, D.J. (red.). 1978. Groot verseboek. Kaapstad: Tafelberg-uitgewers.

Steyn, J. C. 1980. Tuiste in eie taal. Die behoud en bestaan van Afrikaans. Kaapstad: Tafelberg-uitgewers.

Die eerste uitgawe van Die Afrikaanse Patriot, 15 Januarie 1876.

*************************************************************


Die lekkerte van geselsforums

Deur ANITA DU PLESSIS


By die geselligheid draai die gesprek naderhand rondom Geselsforums, spesifiek dié
wat met die stryd rondom Afrikanerskap te doen het.

Van ons borrel oor van die lekkerte daarvan en van wat jy waar kan verwag. Van die ander mense neem beslis die besluit om ook te gaan inskakel.

“Pasop, dis verslawend!” waarsku ek. Ek weet egter dat sommiges nie die waarskuwing nodig het nie en dat dit by ander op dowe ore gaan val. Soos enige ander verslawing neig sommige daartoe en ander nie. Hoekom, begin ek wonder? Wat maak dat ek, as ek net vyf minute tot my beskikking het, tog inskakel en ’n halfuur (of langer) van my kosbare tyd verwyl, van kuber-snert na woordeboek-moeilike politieke redenasies?

Van die redes moet wees dat ek so graag kuier, en my taal en my mense so innig liefhet. Daar
is altyd nuwe mense en ou bekendes om te ontmoet, interessante dinge om te leer en oral tel jy smullekker woorde op.

Gaan krap maar bietjie rond, elke geselsforum het sy digters wat in die mooiste woord-volgorde emosies wyd kan verklaar. Jy sal ook vind dat elkeen sy historici, filosowe, ideoloë, planne- en moeilikheid-makers en les bes grapjasse het. Dan is daar nog geselsgenote wat op jou golflengte is, met wie jy ekstra lekker gesels, wie jy graag op elke onderwerp wat hul aanroer, antwoord. Hulle is die trekpleisters wat jou altyd weer terug laat gaan, soos egte vriende, van meet af aan.

Ontmoet mens hul later in die werklikheid, kuier mens net aan van waar mens in die kuber-ruimte opgehou het, soos ou vriende doen.

Daar is ook geselsgenote wat jou kan vertel hoe hulle hul begeerte om Afrikaners te bly
in Australië, Nieu-Seeland en Londen ervaar. Tot ’n ou van België wat my geleer het van
die fyn nuanses van taal, deur hy gereeld alles wat ek sê (in Afrikaans) te letterlik op wil neem (in Vlaams). Deur hom kon ek opnuut weer leer van die band wat ons aan Vlaandere bind, en ons kosbare Dietse erfenis, wat ek al vergeet het van.

Aan die negatiewe kant is daar seker ook mens se ego wat jou laat deelneem - jou eie ‘five minutes of fame’. Dis mos lekker om jou naam en die twak wat jy kwyt geraak het op die skerm te sien. (Veral as jy, gesigloos, dié wat jou irriteer so lekker sleg kan sê!)

Geselsforums is seker die beste kuur teen eensaamheid, dit gee ’n gevoel van behoort, besluit ek na goeie oorweging.

Ek kuier die graagste in forums waar ek voel ek is tussen my eie dam se eende. Eintlik is ons geselsforums se mense net dagdromers, met ’n brandende begeerte in ons harte en is
ons nie verslaafdes nie, maar dromers. Ons droom graag drome oor die toekoms saam. . .

“All men dream, but not equally. Those who dream by night in the dusty recesses of their minds, wake in the day to find it was vanity.
But the dreamers of the day are dangerous men for they may act their dream with open eyes to
make it possible.”


****************************************************************


Afrikaners se rol in rugby

Deur WALTER LANGUAGE


Die Afrikaner en rugby is onlos-maaklik deel van mekaar. Die spel het wel volgens oorlewering in Engeland onstaan, by die skool, Rugby, waar ’n speler genaamd William Webb Ellis, gedurende ’n sokkerwedstryd 'n bal gevang en daarmee begin hardloop het.

Hy was by die skool van 1816 tot 1825, en die insident het blykbaar in 1823 plaasgevind, alhoewel daar ook mense is wat dié storie betwyfel. Die wêreldbekertrofee is wel na hierdie William Webb Ellis vernoem.

Die eerste rugby in Suid Afrika is vanaf 1861 gespeel by ’n kollege in Kaapstad, en die eerste amp-telike wedstryd is in 1862 in Groenpunt gespeel. Die eerste klub is in 1875 gestig, en die Britse setlaars het gehelp om die spel te versprei van Kaapstad na die Oos-Kaap en Natal, asook Kimberley en Johannesburg.

Eers in 1883 is die Stellenbosch-klub gestig, die eerste betrokken-heid van die Afrikaner by die spel, en dit het gou gewild geraak onderAfrikaners.

Dit het gehelp dat Westelike Provinsie die rugby- voetbal-unie in 1883 gestig het, en Griekwaland-Wes het gevolg in 1886, Oostelike Provinsie in 1888 en Transvaal in 1889, dieselfde jaar wat die Suid-Afrikaanse Rugbyraad gestig is. Dit wil dus lyk asof die Afrikaner se betrokkenheid gehelp het dat die spel in hierdie stadium snel gegroei het in Suid Afrika.

Die eerste Nasionale kompetisie is in 1889 in Kimberley gehou, waar die vier unies deelgeneem het en WP as wenners uit die stryd getree het.

Die Britse Leeus het twee jaar later in 1891 kom toer, en Cecil Rhodes en president Kruger van die Transvaalse Republiek het vir die toer betaal. Die toerspan skenk toe aan die einde van hulle toer ’n beker, wat hulle die "Currie Cup" noem, aan die span van Griekwaland-Wes, omdat hulle gevoel het die span het die beste teen hulle gevaar. Dit is dan ook die beker wat steeds jaarliks aan die Nasionale Kampioenspan oorhandig word.

Blykbaar het die spel verder gewild geraak onder die Afrikaner gedurende die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902, toe baie van die Boere in krygsgevangeniskampe aan die spel bekend gestel is.

In 1906 toer Suid-Afrika vir die eerste keer na Brittanje, met Paul Roos as kaptein, en die manne het ook toe besluit om hulle span die "Springbokke" te noem, en die naam het by die span gebly tot op hede.

Suid-Afrikaanse rugby was altyd ’n krag in Wêreldrugby, maar is vanweë politiek nie toegelaat om in 1987 en 1991 aan die Wêreld-beker-toernooi deel te neem nie, en toe ons die eerste keer in 1995 wel mag deelneem, het ons dan ook as oorwinnaars uit die stryd getree.

Onder die ou bedeling voor 1994 was rugby as die nasionale sport erken, en min Afrikaner-seuns het nie op een of ander stadium meegedoen aan die spel nie.

Deesdae word die Afrikaner natuurlik op die agtergrond geskuif, soos maar op alle ander terreine van die Suid-Afrikaanse samelewing. Die afrigter, kaptein en President van SARU is vandag almal nie-Afrikaners, en daar is ook druk van die regering se kant af om die Springbok-embleem te vervang met die Protea en om ook meer swartes in spanne op te neem.

Dit lyk vir my eerlikwaar of die Afrikaner ook maar sy belangstelling in die sport begin verloor, daar was byvoorbeeld maar 14 500 mense by die onlangse Curriebeker-wedstryd tussen die Leeus en WP op Ellispark, iets wat vroeërjare ongehoord sou wees, in my jong dae was ons elke Saterdag op Ellispark, en die stadion was volgepak vir elke wedstryd.


******************************************************************

Verset, eerste stap na Vryheid

Neem standpunt in en raak betrokke


Deur BEN GELDENHUYS

Die Afrikaner het ’n historiese smag na vryheid en selfbeskikking. Hierdie drang is vandag nog net so sterk en groei ook in die harte van die jonger geslag. Dit kan toegeskryf word aan die onreg wat die Afrikaner vandag aangedoen word. Rasstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging, naamsveranderings en die gemeenskaplike skuldgevoel wat in die Afrikaner se keel afgedruk word onder die dekmantel van "legacy of Apartheid" as verskoning vir die huidige regering se foute en tekortkominge. Die drang na vryheid is dus ook geregverdig.

Ons lewe ongelukkig in die "kits"-wêreld. Hoe vinniger en gemakliker dinge gebeur, hoe beter. Van kitspap tot ’n kits-oplossing vir verkoue en selfs gewigsverlies. Ons het ook al geleer dat ’n kitsoplossing se resultate nie so blywend is soos die ware Jakob nie. Kitssop is geen vergelyking vir regte sop nie.

So is dit ook met ons vryheid-strewe. Laat ek nou maar die een wees wat die nuus breek, “De la Rey, De la Rey, sal jy die Boere kom lei . . .” is dalk ’n baie mooi liedjie wat die hartsnare roer, maar ons vryheid gaan ons nie in so ’n kitsoplossing kry nie. Vryheid is ’n proses.

Die eerste stap na vryheid is om in verset te kom teen die ongeregtighede wat ons aangedoen word. Dit help ook nie ons verwag van ander mense om dit vir ons te doen nie, as jou wens vryheid is, moet jy meemaak aan die strewe en daarom ook die verset-aksies.

Dit is vir my ’n groot hartseer om te aanskou by verset-aksies, hoe min van ons mense sulke aksies ondersteun. Onlangs tydens die hofsaak van mnr. Vlok was daar ’n protes-aksie gereël om aan te dring dat die 37 ANK-lede wat nie amnestie ontvang het tydens die WVK nie, ook nou vervolg moet word. Dit was die ideale geleentheid om ons griewe onder die wêreld se aandag te bring, daar was nuusspanne van regoor die wêreld. Ongelukkig was daar skaars 40 mense wat aan die aksie deelgeneem het. Die idee wat die wêreld dus gekry het, was dat slegs ’n klein persentasie van die Afrikaners van Suid-Afrika ongelukkig is dat die ANK nooit vervolg is vir hulle wandade nie.

Is dit die boodskap wat u wil hê die buiteland moet kry?

Die algemene gevoel in die buiteland is dat wit Suid-Afrika tevrede is met die Nuwe Suid-Afrika en dat die reënboog gesond is. As ons nie aan hulle die teendeel gaan bewys nie, gaan hulle ook nie glo dat ons ons vryheid verdien nie.

Ons vryheid is dus in ons eie hande en elkeen gaan moet besluit hoe belangrik dit vir hom is.

Ben Geldenhuys oorhandig ’n geraamde Vierkleur aan mnr. Ferreira van die ATKV.


Die geraamde Transvaalse Vierkleur wat aan die ATKV oorhandig is.



Francois Coetzee, Jan Beyers en Jan van Schalkwyk voor die Britse Ambassade in Suid-Afrika waar hulle ’n versoekskrif oorhandig het.


**************************************************************

Volkstaat, die Kleinfontein-manier


Deur JAN BEYERS

Die gedagte aan ’n Volkstaat laat vele mense snak na hul asems.

Die term Volkstaat is al so holruggery en deur verkeerde mense geproklameer dat daar altyd ’n klomp kwalifikasies aan so ’n term gekoppel word. Kom ons probeer eers die term definieer voordat ons besluit of Kleinfontein ’n Volkstaat is.

Volgens my is ’n Volkstaat ’n samevatting van sekere begrippe en instellings. ’n Volkstaat word nie gebou van bo af waar jy ’n staat vat, en dan die instellings en gewoontes skep nie.

Nee, ’n Volkstaat moet ’n spontane ontwikkeling van onder wees, waar die volk begin skep aan die staat. Dus sal ’n Volkstaat vele gestaltes kry voordat hy waarlik Volkstaat kan wees.

’n Volk het ’n behoefte en die reg op sy eie instellings waar-binne hy sy self – sy identiteit kan uitdruk. Maar voor so ’n reg of eis gestel word, moet die volk eers sekere instellings hê, asook sekere gewoontes aangeleer het.

Selfbeskikking is uiteindelik ’n ding wat grond toe moet kom. Met grond toe kom praat ons van fisiese grond. Soos op Kleinfontein.

Kom ons kyk watter instellings het Kleinfontein. Hier moet ons net weer onthou word dat ons nie na groot kapitaalkragtige instellings moet kyk nie. Ons sien hier op Kleinfontein ’n eie skool, ’n eie kerk, eie administrasie van dienste, eie bank, eie radionetwerk, eie internet netwerk, eie veiligheids-netwerk, eie volkshulpnetwerk, eie biblioteek, eie paaie-departement, eie oop ruimte komitee, eie Heemraad, en so kan ek aangaan.

Ons het reeds genoem van die gewoontes wat aangeleer moet word. Watter gewoontes sien ons hier op Kleinfontein ontstaan?

Eerstens die trots op ons eie. Die trots wat ek sien in die manne se oë as hulle vir die eerste keer ’n teerpad op Kleinfontein gooi met hul eie ontwerpte en vervaardigde teermasjien. Die trots wat ek in die kinders se oë sien wat vandag in plaas van skool gegaan het, hulle eie skool met kwas en roller oorgeverf het. Die trots wat ek in die ou mense se oë sien wat vir ’n maand lank gehelp het om ’n nuwe waterpyp aan te lê na die dorp. Die trots toe daardie kraan vir die eerste keer oopgedraai word!

Behalwe die trots is selfwerksaamheid ook een van die belangrikste gewoontes wat die volk moet aanleer voor ons eendag ons eie staat kan opeis.

Ons kinders moet eers sien en ervaar dat Ma en Pa alles self doen, en dat hulle maar moet inspring en help in die tuin en nie voor die televisie sit nie. Ons moet eers ons hande deurwerk en sterk word voor ons ’n staat sal kan opbou. Ons sal eers almal moet leer om ’n huisie aanmekaar te slaan.

Rekenmeesters, prokureurs, ingenieurs en administrasieklerke sal eers almal moet leer om
steen te lê. Sonder die harde handearbeid is die trots op jou eie ook glad nie so sterk nie.

Die laaste gewoonte wat ek gaan noem van al die gewoontes is om die mens weer raak te sien. Kapitaal, geld en aansien word by die agterdeur uitgestoot en jy begin om die mens raak te sien. Ná ’n huisbesoek is jou kattebak vol groente en konfyt, ’n plant of twee, en ’n paar stukke biltong.

Jy gee en jy ontvang. Jy ken almal en noem hulle op hul naam. Jy ken elkeen se persoonlikheid en gewoontes. Jy raak trots op jou Volk! Jy raak trots op jou grond!




**********************************************************


Ontmoet die man agter De la Rey ’n Stryd vir Vryheid


Ná byna 25 jaar se navorsing is die lewensverhaal van generaal Koos de la Rey en sy vrou, Nonnie, in De la Rey – ’n Stryd vir Vryheid opgeteken. Karina de Jager het van naderby gaan kennis maak met die outeur van hierdie pragtige gedenkboek, professor A.W.G. Raath.


IN die Afrikaner se ryke geskiedenis het baie leiers na vore getree, maar daar was veral ’n paar merkwaardige krygers wat uitgestaan het. Een van hierdie bittereinders was generaal Jacobus Herculas de la Rey. Niks was vir hom te groot nie, niks was vir hom onoorkombaar nie. “Die vreesloosheid waarmee genl. De la Rey die room van die imperiale magte aangedurf het, maak van hom ’n onvergelykbare krygsman wat vir geen oormag gestuit het nie.”

Agtergrond - Prof. Andries Raath
Een van die redes waarom prof. Raath genl. De la Rey uitsonder, is omdat hy self ’n Wes-Transvaler is. Prof. Raath is op Klerkdorp gebore en het sy skoolloopbaan op Ventersdorp voltooi. Ná skool het hy aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys sy
B. Juris- en LL.B-grade in 1976 en 1978 onderskeidelik verwerf. Prof. Raath het daarna tydelik aan dié Universiteit doseer waarna hy vir vyf jaar ’n dosent aan die Universiteit van Botswana was.

In 1984 het hy aan die Universiteit van die Vrystaat begin doseer in die Departement Staatsreg en Regsfilosofie en ook sy M.A.- en D. Phil-grade in Wysbegeerte verwerf.

Prof. Raath en sy vrou is geseën met drie kinders, twee dogters wat tans studeer en ’n seun wat nou matriek skryf. “Hulle deel dieselfde sentimente as ek en ek kry baie ondersteuning van hulle,” sê prof. Raath.

Sy belangstellings en stok-perdjies strek oor ’n wye spektrum, van historiese slagvelde besoek tot die kweek van aalwyne. “ ’n Mens moet opbouend en kreatiewe tyds-verdrywe hê, om rond te lê en leeg te lê. . . daar is net nie tyd daarvoor in die krisistyd waarin ons ons nou bevind nie.”

Sienswyse
Volksimbole is baie belangrik. “ ’n Volk leef mét en deur sy simbole, vlae is baie belangrik, wapens is baie belangrik, heraldiek is baie belangrik. Dit is ’n belangrike deel van ’n volk se identiteit. Dit is wonderlik dat mense die vrymoedigheid het om die Vierkleur op hul motors te sit en dit dra uiteraard ’n boodskap aan ander oor.”

Of daar plek is vir die Afrikaner in die Nuwe Suid-Afrika het prof. Raath twee sienswyses. “Die Suid-Afrika waarna ons oppad is, ek praat nou in die sin van die ideaal, daardie nuwe Suid-Afrika is die Afrikaner s’n. As ons praat van die huidige moerasland, dan sal daar heel waarskynlik heelwat Afrikaanssprekende blankes hier probeer oorleef, en dan sal daar ’n klompie volksgenote wees wat noodwendig hier moet wees. ’n Staat, grondgebied en ’n volk gaan saam, jy kan nie ’n volk vir ewig in die kuberruimte hou nie. Maar ons moet begin, en dit is dalk goed dat ons hierdie hele kwessie oor die waar en die hoe uitsorteer en ons mense bymekaar kry en ’n bietjie stoom opbou. Ons moet uiteindelik kom by die punt waar ons ons eie vryheid en vaderland terugkry. Die hoe en die waar hang in ’n groot mate af van die inisiatief van ons mense.”

’n Mens hoor baie keer die stelling “as ons maar net ’n leier gehad het”, een man of een vrou gaan nie die volk kan red nie, ons het ’n hele paar “volksleiers” nodig. Ons volk sit met die probleem van identiteitsverlies, veral onder ons seuns, want die vader speel nie meer die rol wat ’n vader behoort te speel nie, en die moeder speel nie meer die rol wat die moeder behoort te speel nie. Ons seuns veral het ’n identiteitskrisis, hy weet nie wie is hy nie, hy weet nie waarheen hy oppad is nie, en dit beteken ons moet maar elkeen begin om leiding te neem in jou werkkring en in jou onmiddellike omgewing, so ook in jou kerk, dan sal dit op daardie vlakke al met ons baie beter gaan.

Die boek – De la Rey – ’n Stryd vir Vryheid
Die Wes-Transvaal het ’n pioniersgeskiedenis, met mense wat as’t ware op die voorste fronte was. Hulle het gehelp met die totstandkoming van die ou ZAR, hulle het gevlug vir Britse imperialisme in die Vrystaat en op baie van hulle koppe was daar ’n losprys omdat hulle teen Harry Smith by Boomplaats geveg het.
Genl. De la Rey was ’n baie beskeie mens, hy het homself nie op die voorgrond gestel nie en dit het die navorsing oor hom baie bemoeilik. Prof. Raath voel De la Rey is in ’n ander klas as genl. De Wet – De Wet was ’n goeie individualis, De la Rey was ’n goeie volksman. . . Hy het nie geslaan en gevlug nie, hy het die stryd deurgesien. Selfs sy teenstanders het net die hoogste agting vir hom gehad.

De la Rey – ’n Stryd vir Vryheid het heeltemal ’n ander be-nadering as ander boeke van sy soort waar foto’s slegs gebruik word om die teks mee af te wissel, hierdie boek is ’n eerste in sy soort waar die foto’s ’n belangrike medium is om die teks te verstaan. In die boek is meer as 500 foto’s gepubliseer waarvan die meeste nog nie van tevore gesien is nie. Die fotograwe was die wêreld vol in die ABO, hulle het letterlik op die slagvelde gegaan met hul driepoot en kameras en foto’s geneem terwyl die krygers besig was om oorlog te voer.

Die vrou het ’n prominente plek in die boek. Nonnie de la Rey se hele lewensherinneringe is in die eerste deel saamgevat. Sy was ’n merkwaardige vrou en sy vertel basies die geskiedenis van die ou Transvaalse Republiek, van sy totstandkoming.

Prof. Raath is ook besig met ’n volgende boek oor die huldiging en die bydrae van generaal Beyers in die oorlog op die Natalse front. Dit behoort volgende jaar in Oktober vrygestel te word en die jaar daarna beoog hy om ’n baie meer volledige werk te skryf oor die Eerste Vryheidsoorlog in 1880 -1881.

Prof. Johan Henning, dekaan van die Universiteit van die Vrystaat, en prof. Andries Raath by die bekendstelling van De la Rey - ’n Stryd vir Vryheid.