-- 27 Februarie 1881 --
Die Republiek van Bravoland se e-koerant
Besoek ons by www.bravoland.co.za, hierdie is nie die amptelike webwerf van die Republiek van Bravoland nie.
27 Feb 2008
6 Feb 2008
Bravoland Spaarklub
Voorsitter: Jan Beyers
O/voorsitter: Clem de Klerk
Sekretaris: Walter Language
Tesourier: Plaas Botha
Die bestuur van die Bravoland Spaarklub stel tans die Grondwet van die Klub op.
Vir meer inligting, of om in die Bravoland Spaarklub te belê, kan u gerus hierdie draad besoek: Bravoland Spaarklub
.
22 Jan 2008
1. 'n Besoek aan generaal C.R. de Wet se plaas, Cornelia, by Rooipoortdam naby Koppies,
2. die geboorte van Bravo01, die eerste lid van Bravoland se beeskudde,
3. die Bravoland Bivak Braai,
4. Pretoria Bly Pretoria-versetaksie, en
5. die Paardekraal Geloftefees 2007 waar van die klippe van die klipstapel weer onder die Paardekraal-Monument gepak is. In 1880 is hierdie klipstapel deur die Boere in Krugersdorp gepak as belofte aan mekaar dat hulle nie sal ophou veg totdat hulle hul vryheid herwin het nie. In 1901, in opdrag van Lord Roberts, is hierdie klippe in die Vaalrivier onder die treinbrug gegooi. Clive Derby Lewis het met behulp van polisieduikers van die klippe uitgeduik en toestemming aan die Paardekraal Verkenners gegee om dit terug te plaas.
Die video kan ook op YouTube gekyk word by: Ons vir jou Suid-Afrika
20 Jan 2008
Die Bravolander - Januarie 2008
Laai die volledige Januarie-uitgawe in PDF-formaat hier af: Die Bravolander - Januarie 2007
Dit kan dalk gebeur – toekomsgerigte siening
Deur CLEM DE KLERK
Die jaar 2007 het geëindig met vreemde klanke in ons ore. Daardie klanke gaan weerklank vind in die klowe van 2008. Die wêreldpolitiek word hewiger, die ekonomiese bedrywighede van die wêreldburgers word al nouer en die oliemagnate spartel om vir oulaas miljarde in hul beurse te kry voordat die totale voorraad in duie stort.
Maar wat hou 2008 in vir die Witman in Afrika? Daar is goeie en slegte nuus. Die slegte nuus is dat 2009 veel slegter gaan wees as 2008 en die goeie nuus is dat 2007 beter was as wat 2008 gaan wees.
Maar kom ons bepaal ons tot die dinge wat werklik ’n invloed kan uitoefen op ons volksbestaan.
Die stryd tussen Zoeloe en Xhosa kan hewiger word as in ag geneem word dat die Xhosa’s besig is om Zuma te raam en skuldig te bevind voordat hy dalk verkies word tot president van die land. Hierteenoor is Zuma blykbaar besig, net soos met die verkiesing as ANC-president, om die voetvolk op te vorder tot ondersteuning vir sy aanslag. Dit bevat die implikasie dat vervolging mag plaasvind, maar dat skuldigbevinding uitgesluit word.
Wat ook al die uitkoms is, die geveg tussen hierdie twee volke het nog nie werklik begin nie, en gaan nie gou eindig nie. Die randeiers in die ANC is diegene wat hul steun gee aan die een wat die beste beloftes kan maak, wat die hardste kan praat oor wat hulle alles verniet gaan kry in ruil vir ’n stembus-kruisie. Die Xhosa-kamp sit met ’n yslike dilemma – hulle het nie ’n prominente leier in eie geledere wat oor die statuur beskik om president te word nie – en diegene wat wel oor die statuur mag beskik stel duidelik nie veel belang nie, of hulle geniet nie genoeg steun onder die voetvolk nie – en dit maak dat die ANC se Xhosa’s hulle kan wend tot uitdrywing van diegene in die Party wat in hulle pad staan.
Aan die anderkant is daar die kommunisties-gedrewe strukture wat Zuma steun omdat hy simbool geword het van wat in die kommunisme gesetel is, naamlik toepasser van ongerymdhede soos wat hulle self ook wil toepas. Hierby kan ook in aanmerking geneem word dat Cosatu, die Jeugliga en die Vroueliga almal wil sien dat hulle Leier net so “skuldig” moet wees as wat hulle self is – en dit verklaar waarom die sogenaamde Madiba aangehang is, en dalk nog aangehang word – hy is ’n “skuldige” terroris wat vrygelaat is.
Maar dat dit die begin is van hewige stryd onder die Afrikane in die land, moet niemand in twyfel trek nie. Die opsigtelike pogings wat in Pietersburg aangewend is om sogenaamde ANC-eenheid en ANC-demokrasie aan die ondersteuners te verkoop, is strategie van albei partye – die Thabo-lot teen die Jacob-seksie. Uiteindelik gaan die seepbel bars, maar die ontploffing gaan ook die blankes tref. Niemand sal die totale impak van so ’n ontploffing nou reeds kan uitspel nie. Die hewigheid van die ontploffing gaan ook bepaal word deur ander buitefaktore wat nie nou ter sake is nie.
In die buiteland gaan die VSA ook eersdaags stembus toe. Anders as in Kenia waar Afrika se wanorde die verkiesing in chaos gelaat het, sal die VSA weer die stryd tussen Republikein en Demokraat laat woed met die Dollar wat kwistig aangewend sal word om nog ’n welvarende die president van die VSA te maak. Wie ook al die leisels daar oorneem, is van weinig betekenis vir die RSA en van geen waarde vir die Boere-Afrikaner nie. Die verandering in leierskap kan wel ’n invloed uitoefen op die oorlog in die Ooste, die olie-voorsiening aan die VSA en ander wêrelddele.
Ons volk sal ook nuwe aksies van stapel stuur. Die skielike heengaan van die HNP-leier, mnr. W.T. Marais, beteken ook dat die Afrikanerfront ’n nuwe voorsitter moet aanwys, en die HNP sal skerp moet dink oor die pad vorentoe. Die Afrikanerfront sal in Januarie sy eerste vergadering van die dagbestuur hou waarin ’n hele paar sake eers afgehandel moet word alvorens daar met daadwerklike optrede begin kan word. Die saambinding van volksgenote sal deurlopend op die sakelys bly vir die Front. Dit kan ook nuwe veerkrag gee aan ons mense om betrokke te raak in die vryheidstryd.
Die Afrikaanse kerke sal ernstig moet besin oor hul belydenisskrifte, en as daar gehou word by die bestaande en erkende Skrifte, sal dit nuwe lewe blaas in die voortgang van ons volk.
Maar daar is ook uitdagings wat wag op elke burger van Bravoland. Die debatvoering wat vreugde en perspektief bied aan menige deelnemers sal nie net daarby bly nie. Doelgerigte take sal aangepak moet word om ons volk te rig en te lei. Hiervoor sal sterk leierskap nodig wees, nie net van die president van Bravoland nie, maar veel eerder deur sy volksraad en sy algemene burgery. Die nodige ondersteuning wat ons burgers behoort te bied, sal ook die vermoë van die president bepaal. Daardie eendragtigheid behoort dan ook neerslag te vind in ander strukture.
Miskien kan Bravoland een reuse-taak begin – en so sterk daarop konsentreer dat dit moet en sal lei tot uiteindelike sukses.
Die skrywer hiervan kan nie anders nie as om daardie doelwit te stel rondom ekonomiese krag. Dit is die een faktor wat nie onderskat mag word nie. Daar is soveel wat ons burgers (en Bravoland) kan vermag indien ons ’n Bravoland ekonomiese krag kan vestig. Bravoland behoort die leiding te neem in 2008 om selfs die Afrikanerfront te oortuig dat ’n Ekonomiese Kongres vanjaar gehou moet word – met sprekers en kundiges uit die ekonomiese wêreld.
As Bravoland dit gedoen het, dan het hy ’n bres geslaan vir die ganse Volk. Solank daardie ekonomiese kragte ontgin word binne die raamwerk van die Volk se geloofsetiek kan dit ’n reuse-stap wees op pad na totale vryheid.
Kom burgers, daar is werk wat wag!
Nasionale simbole kompetisie
Tydens die Volksraadsitting van 17 November 2007, is daar besluit dat daar vir die burgers en vrywilligers gevra gaan word om te help met die ontwerp van Bravoland se nasionale simbole. Ontwerpe en voorstelle vir die volgende word verlang.
1. Volkslied
2. Vlaglied
3. Landswapen
Vir die ontwerp van die landswapen geld die volgende:
1. Enige simbole kan gebruik word mits dit binne ons kultuur is
2. Voorstelle moet asseblief van ‘n betekenis vergesel wees
Die sluitingsdatum vir voorstelle en ontwerpe is 29 Februarie 2008, en kan op een van die volgende metodes aan ons gestuur word.
1. Deur middel van e-pos kompetisie@bravoland.co.za
2. Slakkepos – Posbus 562, Groblersdal, 04703 (merk asseblief duidelik vir Sannie van der Walt).
Op ons webwerf www.bravoland.co.za/forum op die draad wat vir die kompetisie oopgemaak is.
Die wenner van die kompetisie sal aangewys word nadat die toepaslike simbole verkies is.
*************************************************************
Bravoland reik uit na Villa Gloria
Deur BEN GELDENHUYS
As gevolg van die rassistiese wetgewing – regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging – is die nood onder ons Volksgenote deesdae baie hoog. Bravoland het reeds vroeg in haar bestaan besef dat sy 'n poging moet aanwend om 'n verskil te maak, al is dit hoe klein in vergelyking met die nood wat bestaan. Dus en derhalwe is daar gereeld Volkshulp-aksies van stapel gestuur. In die meeste gevalle is daar gekonsentreer op voedsel, maar omdat dit Desember is, is daar besluit om dit spesiaal te maak vir 'n paar kinderhartjies.
Op die 17de Desember 2007 is 'n afvaardiging van Bravoland na “Villa Gloria” in Krugersdorp. Daar is Kersgeskenkies aan die kinders uitgedeel en ook voedsel oorhandig aan Villa Gloria se koskas. Uit die koskas word die behoeftigste van die mense onderhou. Ook is daar klere vir die klerekas oorhandig. Ook die klerekas, net soos die koskas, word bestuur en die bestuurstelsel verseker dat die persone wat werklik 'n nood het, dit ontvang.
Die verblydende nuus van die dag se gebeure was om te verneem dat twee gesinne permanente verblyf gevind het en dus Villa Gloria verlaat het. Sien, Villa Gloria word as 'n halfweghuis bestuur, meeste mense het geen werk of verblyf wanneer hulle daar aankom nie. Aan die mense word dan verblyf en voedsel gegee, en meer belangrik, word hulle gehelp om werk te kry. Wanneer hulle dan werk gekry het, betaal hulle 'n klein bedraggie huur, totdat hulle onafhanklik genoeg is om Villa Gloria te verlaat en permanente verblyf elders te kry.
Die bestuur was ook baie trots om ons in te lig dat al die kinders van Villa Gloria geslaag het by die skool.
Aan almal wat donasies gegee het vir hierdie Volkshulp-aksie wil ek my opregte dank uit spreek, ek glo dat hierdie aksie 'n paar kinders se harte bly gemaak het en ook hulle magies vol!
************************************************************
Geloftedag – 16 Desember 2007 - Bloedrivier
Deur PETER THOMAS
Die gevoel van opgewondenheid het al begin toe ons op die grondpad na die Bloedrivier-terrein afdraai.
By die terrein aangekom het die hoeveelheid mense daar my opgeval. Dit was ‘n feestelike stemming met vlae van die verskillende Boere-republieke wat oral gewapper het. Mense het al vir die vorige paar dae in die “laer” kampeer. Daar was “kenmekaar” geleentheid, boodskappe is uitgesaai, aand-kampvure met volksang, klei-os maak, jukskei en ander aktiwiteite om die mense besig te hou. Die kampkommandant se tent was omring deur tien vlae van die Boererepublieke.
Ons was net betyds vir die verrigtinge wat om 09:00 in die laer sou begin. Die hoogtepunt sou die herbevestiging deur die teenwoordiges van die Gelofte wees.
Toe ek die laer binnestap is dit asof ek deur ‘n onsigbare poort loop en 169 jaar in die verlede geplaas word.
In my geestesoog beleef ek daardie Sondag van die Slag van Bloedrivier. Ek hoor die geskree van die stormende Zoeloe-impi’s en die geweervuur van die Boere. Ek sien die digte rook van die kruitdampe, die diere wat verbouereerd rondmaal en ek hoor weer die aanhoudende, aanhoudende geweervuur. Skielik is ek weer terug in die hede en ek voel die hare op my arms regop staan.
Plekke is ingeneem op kampstoele of sommer so op die grond. Net na 09:00 het die perdekommando die laer binnegekom, die voorste tien ruiters elkeen met ‘n Boererepublieks- of Voortrekkervlag. Soos elke vlag in ‘n halfsirkel geplant is, is die herkoms van die vlag verduidelik.
Dan word daar uit volle bors gesing en na ‘n kort toespraak en gebed, vind die hoogtepunt van die dag plaas. Almal teenwoordig herbevestig hardop die Gelofte, ‘n paar honderd Christen-Afrikaners verenig in hulle opregtheid.
Die verrigtinge in die laer word afgesluit met die sing van al vier verse van die Stem. Ai, hoe wonderlik is dit nie om weer eens die Stem te sing soos dit moet gesing word, in Afrikaans!
Ons beweeg daarna almal na die saal toe vir die Geloftediens.
Gedurende voorsang sing ‘n nuwe sangeressie Coreen ‘n liedjie oor Bloedrivier wat spesiaal vir die Geloftefees geskryf is, ‘n toekomstige treffer as daar ooit een was!
Dan sing almal Psalm 146 en die skriflesing kom uit Lukas 11.
Ter afsluiting sing almal die Onse Vader.
Na ‘n kort pouse volg ‘n historiese voordrag en daarna is dit piekniektyd en gesellig saam verkeer.
So loop ‘n baie spesiale dag ten einde en in stilte pak ons die lang pad huis toe aan. Die gebeure van die dag nog te vars in die geheue vir onbelangrike praatjies.
Dag van versoening? Ek is oortuig nie een van die mense daar het aan versoening gedink nie, dit was Geloftedag, en die herbevestiging daarvan het alles daar oorheers.
Bravodal se inwonders - vervolgverhaal deel 4
Deur RUBEN BOTMA
Dis 19:30.
Johan Wilkens is besig om sy reistas uit te pak. ‘n Skielike beweging by die venster vang sy oog.
Hy staar stip na die kat wat langs die vensterbank opklim. Hy hou nie baie van katte nie, maar die Bergkrans Hotel is die enigste slaapplek wat hy op kort kennisgewing kon kry. Hoewel dit buite effe vervalle lyk, is dit duidelik dat die eienaars baie moeite gedoen het met die binne-versierings.
Dit voel amper asof hy in iemand se huis ‘n kamer huur.
Hy het homself voorgeneem om nie langer as drie dae op Bravodal deur te bring nie en daarom het hy slegs die nodige ingepak. Dit is ‘n belangrike saak wat hy met Tant Leen moet bespreek – een wat moontlik tot ongelukkigheid onder baie van die inwoners mag lei…
Hy dink na oor die afgelope vyf jaar. Hy het ongekende belangstelling in die saak op universiteit begin toon. Soveel so, dat hy sy verhandeling gebaseer het op die moontlike interpretasies van ‘n obskure bywet in die Bravoland Grondwet waaroor daar nog geen uitspraak in enige howe binne die Republiek was nie.
Dit bring die opgewondenheid weer sterk na vore en daardeur besef Johan dat hy weereens deur die nag gaan werk…
“Moet nooit onkant gevang word deur enigiets wat ‘n getuie mag kwytraak nie. As jy nie daarop voorbereid was nie, is jy nie jou sout werd nie,” was die dekaan van die Fakulteit Regsgeleerdheid se opinie oor die Regsprofessie.
Johan het dit sy slagspreuk gemaak; sy wese is daardeur in beslag geneem.
Omstreeks vieruur die volgende oggend het Johan bo-op sy skootrekenaar aan die slaap geraak. Sy beplanning vir die dag was feitlik uitgewerk. Sy belangrikste taak sou wees om met Tant Leen te gesels.
* * *
“Goeiemôre mnr. Wilkens. U het gevra dat ons u ontbyt direk na u kamer moet bring,” sê ‘n dun stemmetjie terwyl die kamerdeur op ‘n skrefie oopgemaak word.
Die reuk van koffie dring na hom toe deur.
“Goeiemôre, mej. ...?” begin Johan.
“Smit,” antwoord sy hom. “Ek hoop nie ek is te vroeg nie. U het ons laat weet dat u 06:00 koffie en beskuit wou hê.”
“Baie dankie, mej. Smit. Plaas dit asseblief op die lessenaar… Wag, laat ek gou plek maak vir die skinkbord…”
Johan se vingers is skielik dom. Hy slaag daarin op plek vir die skinkbord te maak, maar faal daarin om daardie boeke en papiere op die lessenaar te hou.
“Nee, toemaar. Ek sal dit optel,” sê Johan aan haar. “Ek… uh… Ag wat, dit moet maar daar bly.” Vererg skuif hy die boeke onder die lessenaar in met sy voet en hoor hoe die papiere frommel.
Mej. Smit sien hoe Johan poog om sy humeur te beteuel en kry ‘n skelm glimlag op haar gesig. “Ek het vir u ‘n skoon handdoek in die badkamer neergesit,” volg mej. Smit asof sy nie die vorige petalje aanskou het nie.
“Weer eens dankie, mej. Smit,” sê Johan terwyl hy probeer om nie geïrriteerd te lyk met homself nie.
“Indien u ons dalk benodig, kan u slegs die telefoon langs u bed optel en nommer 1 skakel. U word direk na die ontvangs toe deurgeskakel. Is daar nog iets wat u verlang, mnr. Wilkens?” Sy kyk hom vierkantig in die oë. Hy sien die uitdaging in haar oë.
“Mej. Smit, daar is een ding wat u vir my kan doen voordat u gaan… U voornaam asseblief.” Hy sien aan haar lyftaal dat sy dit nie verwag het nie.
“Alida,” sê sy voordat sy haarself uit die kamer haas. Sy moes omdraai en terugkom omdat sy vergeet het om die deur toe te maak. Terwyl sy die deur saggies toedruk, sê Johan: “Dankie vir jou moeite, Alida.”
Met ‘n sigbare bloos maak Alida die deur toe. Terwyl sy in die gang afstap hoor sy die sagte lag vanuit Johan se kamer. Mansmense darem, dink sy by haarself.
* * *
Johan maak homself klaar. Hoewel hy slegs twee ure se slaap in agter die rug het, weet hy dat hy ‘n effektiewe twee ure ingekry het. Meermale het hy tydens sy studies op minder as dit gaan eksamen skryf.
Johan neem die papiere wat op die lessenaar is en plaas dit binne sy aktetas. Hy weet hy moet vandag die onsmaaklike taak op homself neem om met Tant Leen te gesels. Hy hoop net dat sy nie te ontsteld sal raak nie.
Wat Johan egter nie gesien het toe hy die kamerdeur agter hom toegetrek het nie, is dat die belangrikste dokument onder een van die boeke onder die lessenaar bly lê het…
* * *
Alida het gewag totdat sy gesien het dat Johan in sy motor geklim het voordat sy dit weer buite die kombuis gewaag het.
Sy moet daagliks nuwe beddegoed in elke kamer op die beddens sit. Sy kon sien dat hy nie op sy bed geslaap het nie, maar die nuuskierigheid het haar beetgepak. Miskien is dit maar net sy manier van oogkontak hou as hy praat, dink sy. Dalk, maar Johan interesseer haar.
Sy neem ‘n stel skoon beddegoed op na die kamer en sluit die deur oop. Die kamer is feitlik presies soos dit is voordat iemand dit huur, behalwe vir die twee boeke en ‘n paar verfrommelde folio’s wat onder die lessenaar lê.
Sy besluit om eerste die boeke en papiere op te tel voordat sy die beddegoed ruil.
Die twee boeke lyk of hulle in ‘n biblioteek hoort: Familiereg binne die konteks van die Europese Eenheidstaat en Grondwet van die Republiek van Bravoland. Dit klink uiters vervelig, dink sy by haarself.
Sy besluit om maar die papiere ook op te tel. Die eerste een lyk of dit ‘n skedule van een of ander aard is. Al wat sy daarop kan uitmaak is die tye. Die res is alles in een of ander kode geskryf. Sy kan dit glad nie uitmaak nie.
Die volgende dokument lyk na ‘n amptelike regeringsdokument.
Die briefhoof dra die kenteken van die Departement van Familiesake en Welsyn. Sy weet sy moenie die dokument lees nie, maar sy kan haarself nie help nie…
Skielik snak sy na haar asem! Dit kan tog nie waar wees nie! Dit kan nie! Sy los die papiere en dokumente net so op die lessenaar en storm by die kamer uit…
Mag sy iemand vertel of moet sy eers vir Johan daaroor konfronteer?
Paardekraal-Geloftefees 2007
In byna elke volk se geskiedenis is daar belangrike gebeure wat op ‘n spesifieke manier herdenk word.
Een van die belangrikste herdenkingsdae in die Afrikanervolk se geskiedenis is Geloftedag. ‘n Gelofte is ‘n belofte wat ons aan God maak en in die aanloop na die Slag van Bloedrivier het die Voortrekkers gevra dat die Here die Zoeloes in hul hand moet gee as dit Sy wil is, en met die oorwinning oor die Zoeloes het die Voortrekkers op die 16de Desember 1838 ‘n belofte aan die Here gemaak dat ons hierdie dag elke jaar sal herdenk en as ‘n Sabbat sal deurbring.
Meer as 40 jaar later, weens die Engelse se aanslae op die Voortrekkers se vryheid, word die Gelofte herbevestig in 1880 te Paardekraal en ‘n klipstapel is deur ongeveer 8 000 burgers gepak as voorneme om nie op te hou veg totdat hulle hul vryheid herwin het nie. Hierdie klipstapel is gepak op die presiese plek waar die Paardekraal-Monument vandag staan.
In 1901 het lord Roberts opdrag gegee dat die Engelse hierdie klippe per trein na die Vaalrivier vervoer en dit onder die treinbrug in die rivier gooi. Dit was asof die burgers se moed gebreek was na hierdie aksie deur die Engelse.
Met hierdie geskiedkundige gebeure vars in die geheue reël die Paardekraal Verkenners die Geloftedagvieringe te Paardekraal-Monument, soos elke ander jaar en die Verkenners en Bravoland kamp van die Vrydag tot die Sondag by die Monument.
Vrydagnamiddag 14 Desember begin die groot volksaamtrek en woonwaens en tente word in ‘n laer opgeslaan en daardie aand word daar gekuier rondom die braaivleisvure. Na die aand se geselligheid is almal in twee uur-skofte ingedeel en daar is waggestaan regdeur die nag, wanneer jou skof verby was moes jy die volgende mense wie se beurt dit was, wakker maak.
Saterdagoggend het begin met ‘n vlagseremonie waar die Transvaalse Vierkleur en die Triomfvlag van Bravoland gehys is. Daarna het die groot skoonmaak- en opruimingsaksie begin. Die banke van die amfiteater is gewas, die badkamers skoongemaak en die area rondom die monument is opgeruim. Teen die middag was alles gereed vir die volgende dag se Geloftedagverrigtinge.
Daardie middag het die feesprogram afgeskop met boeresport. Almal is in twee spanne opgedeel met ongeveer 15 lede in elke span, die De la Rey-span onder leiding van Ben Geldenhuys en Chris Hoogendijk as die leier van die De Wet-span. Die kompetisie was straf en met groot opwinding is daar eiergegooi, met ‘n eier op ‘n lepel gehardloop, tougetrek, sakresies gehou en heel laaste is daar skyfgeskiet met windbukse. Vir al die aktiwiteite is punte toegeken aan die onderskeie spanne en met die skyfskiet is daar nie net aan die spanne punte toegeken nie, maar ook aan elke individuele skut. Na afloop van die boeresport is die punte van elke span opgetel en die De la Rey-span het as oorwinnaars uit die stryd getree. Die boeresportdag is afgesluit met ‘n prysuitdeling vir die top-skuts van die dag met pragtige pryse geborg deur Camdix in Krugersdorp.
Om 18:00 het die aand se verrigtinge afgeskop met Volkspele en tot groot vermaak van die toeskouers (en die deelnemers) het ons leke ook ‘n beurt gekry om ons staal te wys in die Volkspele-arena. Dit het dalk tot groot frustrasie van die professionele Volkspelers gelei, maar dit was baie pret. Sangers en ‘n musiekgroep het gesorg vir die vermaak vir die res van die aand en die kampeerders het – so tussendeur die reën – weer tot laat om die braaivleisvure gekuier.
Die Sondagoggend was almal 04:30 uit die vere om gereed te maak vir die vroeë oggenddiens wat om 06:00 begin het. Hierdie diens is waargeneem deur ds. D.A. van Rooyen waarna daar vir ‘n uur pouse was en almal koffie gedrink en ontbyt geëet het. Om 08:45 het die program voortgegaan met samesang en vlaghysing en die ontplooiing van twee reusagtige vlae – die Transvaalse Vierkleur en die Vrystaatse Vierkleur – aan weerskante van die Paardekraal-Monument, waarna die 1880-Gelofte voorgelees is. Die feesrede is gelewer deur prof. Erik Holm.
Mense vra so dikwels “kan die Afrikanervolk onsself as ‘n afsonderlike volk beskou?”. “Wat maak ons anders as enige ander Westerse volk, wat maak ons uniek?” Prof. Holm het in sy feesrede die volgende onder ons aandag gebring, en ek haal die volgende aan uit Tannie Anita du Plessis se “Boeremag”-dagboek op die Bravoland-forum:
Prof. Eric Holm het in sy rede verduidelik dat die Gelofte op drie bene staan: ‘n godsdienstige en ‘n militêre been, maar ook ‘n baie belangrike derde been – dié van ‘n Volksverbond. Hy het verduidelik van genepoele in die wetenskaplike wêreld waar ‘n kompleks gene ‘n ras bepaal met variasie binne-in. Hy het vertel dat “meme” die gene van idees is en dat ons aan ons volk moet begin dink in terme van ‘n memepoel. Net soos ons in terme van genekomplekse as van Europese afkoms geklassifiseer kan word, word ons in terme van idees in meemplekse uitgesonder. Hy het, op sy tipies wetenskaplike manier, ons as Verbondsvolk gaan dissekteer – die meme, waaraan ons uitken word, gaan ontleed en die volgende kenmerke van die Verbondsvolk opgenoem:
1. ons taal, Afrikaans
2. ons kultuur en geskiedenis
3. ons humorsin (eie aan die Afrikanervolk)
4. ons Christelike etiek (of ons as individue nou aan ‘n kerk behoort of nie)
5. ons snaakse hardkoppige ondernemerskap (“ons vat nie orders nie, maar kan ons planne maak...”)
6. ‘n eienaardige individualisme (wat maak dat ons nie maklik saamwerk nie)
Na nog ‘n pouse was daar weer samesang om 10:45 en die voorlees van die 1838-Gelofte. Die Geloftediens is waargeneem deur ds. P.H. Huystek en in hierdie tyd het daar ‘n hewige reënbui losgebars. Ironies genoeg, hoe meer ds. Huystek oor Noag preek, hoe harder het dit gereën. Dit was ‘n ongelooflike ervaring... Na afloop van die diens is die vlae gestryk en die Stem van Suid-Afrika gesing. Daar is niks wat die gevoel van volkstrots aanwakker soos deur die sing van die Stem nie, dan besef ons net weer ons is aan die suidpunt van Afrika geplaas met ‘n rede, en dat God dalk weer eendag vir ons ‘n oorwinning sal gee soos vir die Voortrekkers by Bloedrivier sodat ons weer ‘n vrye volk kan wees.
Die Geloftedag is afgesluit met ‘n boodskap deur die voorsitter van die Paardekraal-Feeskommissie.
In die vorige uitgawe van Die Bravolander het ons vertel van die Belofte-klippe, die klippe van die klipstapel wat deur die Engelse in die Vaalrivier gegooi is. Die Paardekraal Verkenners het baie navorsing gedoen oor hierdie klippe en uitgevind dat Clive Derby Lewis, wat in C-Max-gevangenis is vir deelname aan die moord op Chris Hani, van hierdie klippe laat uitduik het. Ben Geldenhuys en Chris Hoogendijk het gaan besoek aflê aan Clive om uit te vind wat van die klippe geword het, en Clive het gesê ons kan die klippe kry.
Wat hierdie Geloftedag so ekstra spesiaal gemaak het, is dat ons die voorreg gehad om na afloop van die dag se verrigtinge hierdie klippe weer terug onder die Paardekraal-Monument kon pak. As u eendag gaan besoek aflê aan die Paardekraal-Monument sal u hierdie klippe onder die monument by die gedenksteen sien.
Hierdie jaar, 2008, is die 170-jarige herdenking van die Slag van Bloedrivier en ek wil vandag ‘n beroep op elkeen doen om hierdie dag saam met ons te Paardekraal te herdenk.

Die siekte van ‘n skuldgevoel
Deur JAN VAN ZYL
Ek was so ‘n paar weke terug vir ‘n saak in die Konstitusionele Hof in Johannesburg. Hierdie moreel onbegronde hof vind jy in die oorblyfsels van die voorheen Nommer 4 tronk, wat deel uitgemaak het van die ou Fort, waar terroriste soos onder andere Nelson Mandela aangehou is.
Konstitusionele Heuwel, waar die hof en tronkmuseums ens. staan, word deur die ANC voorgehou as een van die morele regverdigingsgronde waarom die nuwe bestel sodanig legitiem sou wees. Net soos die Apartheid Museum en “Freedom Park”, word hierdie propaganda-struktuur met groot koste getooi en in stand gehou in die gees van die “nuwe” Suid-Afrika. Dit terwyl daar skaars ‘n blok vanaf die Konstitusionele Hof op groot skaal geroof, verkrag en vermoor word. In die moderne samelewing weet die ANC goed dat die leuen verbloem in ‘n waas van liberale propaganda maklik deur die publiek soos soetkoek opgevreet sal word.
Die oorhoofse doel van elke ANC monument en museum, is dan ook om hierdie leuen weer te bevestig, te versterk en aggressief na buite te propageer. As ‘n blatante leuen in die proses vertel word, is dit aanvaarbaar gesien in die lig dat apartheid ‘n “misdaad teen die mensdom” sou wees. So vind ons in die nuwe ANC-gefinansierde Bloedrivier-museum (net oorkant die rivier van ons eie Bloedsrivier-monument) die geskiedenis amptelik voorgehou as volg: Piet Retief en sy manskappe is om die lewe gebring omdat hulle gevang was waar hulle naby Dingaan se hut in die nag besig was met “loitering” en toordery. Van die Voortrekkers het onbehoorlik teenoor die Zoeloedames opgetree, en hulle probeer verlei. Verder verdien hulle om doodgemaak te word, omdat hulle van die Zoeloes almal slawe en Christene wou maak. Daar was nooit ‘n traktaat nie, en Bloedrivier was nie ‘n oorwinning nie aangesien net ‘n paar honderd krygers aan die slag deelgeneem het.
Die vorme wat die leuen van die “nuwe” Suid-Afrika aanneem, vind op verskillende wyses plaas. Aan die swart massa word die illusie voorgehou dat hulle inderwaarheid nou vry is, en dat dit sogenaamd beter met hulle sou gaan. Aan die Afrikaner, wat kan sien dat dit eintlik nie so goed gaan nie, word die herhaalde refrein in ons kele afgedruk dat ons skuldig is. Vir alles skuldig is.
Hierdie skuldgevoel werk soos ‘n virus. Dit gryp die oningeligte aan sy keel, laat hom smoor van skaamkry. Die stommerik sê gevolglik dan net ja en amen op elke immoreel waansinnige ANC-daad. Met bloedstollende oë kyk hy jou angsbevange aan as jy dit sou waag om kritiek uit te spreek teenoor die regering. Ons is mos dan skuldig. Sleg en verkeerd. En ons moet betaal. En nooit ophou betaal nie.
Hierdie skuldgevoel versmoor alle vorme van logika, dit beklemtoon die persoon wat net saam met die stroom beweeg se swak karakter, en maak inderdaad van ons volk slawe.
Ons eie mense kan ook nie ophou om oor hul voete te val om hierdie gedrog van ‘n regering ter wille te wees nie. Verdwaalde siele soos die FAK, ATKV en die Voortrekkers (huidige jeugbeweging, beslis nie die Voortrekkers van destyds nie) probeer hard om elke opdrag van die ANC uit te voer. Terselfdertyd ontwikkel daar ook onder ons eie mense die gees van “happy” wees. Almal moet net “happy” wees, almal se vriende wees, en basies almal probeer tevrede stel. Hierdie is die tipiese simptoom van ‘n volk wat te skaam geword het om vir hul beginsels op te staan.
In ‘n maand waar ons weer Geloftefees gehou het, moet ons vir ‘n oomblik stilstaan en ons situasie met realisme in die oë kyk. Vir ons om as volk weer ‘n regmatige plek in Afrika in te neem, moet ons terugkeer na die basiese beginsels. En dit begin deur ‘n gees van nasionalisme te kweek. ‘n Gees van trots op wie en wat ons is. Ons behoort oor niks skaam te voel nie. Die ander volke in SA is diegene wat skaam behoort te voel, bloot vanweë die feit dat hulle ons so terug gehou het. Dit maak nie saak wat die leuen is wat die ANC aan ons probeer voorhou nie, die waarheid kan nie verbloem word nie.
As daar een boodskap van die ou Voortrekkers is wat veral in hierdie tyd tot ons behoort te spreek, is dit die gees van trots wees op wie en wat ons is. Die Voortrekkers het nie jammer gesê omdat hulle getrek het nie. Hulle het ook beslis nie jammer gesê omdat hulle hulself verdedig het teen die aanslae van barbare nie.
Die ANC was nog altyd immoreel. Hulle is dit, en sal dit ook altyd bly. In die einste Konstitusionele Hof, net voor jy by die hof instap, is daar twee groot koper deure waardeur jy moet loop. Daar by die ingang is ‘n plaat aangebring met die woorde van Nelson Mandela, waar hy sy hoop uitspreek dat hierdie hof waarlik vir almal in Suid-Afrika regverdigheid, billikheid en vryheid sal bring. Skaars drie meter regs van hierdie plaat is daar graffiti op ‘n ou tronkmuur geverf. Die woorde skree dit uit: “Viva MK” (ANC se terroriste vleuel, wat vandag sterk verdink word vir baie plaasaanvalle). In daardie hof, die regering se liberale konstitusionele vrymakende struktuur, kan die haat en wrewel, die terrorisme, die onregverdigheid en onbillikheid net eenvoudig nie weggesteek word nie.
Dit spreek daartoe dat selfs die liberalis se droom van ‘n Grondwet en menseregte-hof inderwaarheid reeds met die hof se opening gesneuwel het voor die barbarisme van Afrika.
As dit die blatante wyse is hoe die regering hul gruweldade goedpraat, waaroor durf ons skaam te voel? Laat ons as volk hierdie jaar met trots instap. Vir niemand vra ons verskoning nie, van niemand vra ons toestemming om hier te mag wees nie. Die gees van al die geslagte voor ons, ja daardie gees van trots wees, dit is die gees wat ons vyande soos mis voor die son sal laat verdwyn.
“Hier staan ons trots, ons durf nie anders nie.”

Willie wil ook sien
Deur WILLIE WEETALS
Willie sien 'n ding kom, 'n ding waarvoor Willie al lankal wag. Dit beteken nou nie dat Willie nou Siener Weetals is nie, om Weetals te wees, beteken nie dat Willie die toekoms moet kan voorspel of "sien" nie. Daar het egter 'n paar dinge gebeur wat vir Willie beteken dat daar 'n ding kom, want Willie sien helder wat om hom aangaan maar dit beteken nie dat hy nou gesigte sien of heldersiende geword het nie.
Nou wonder die leser seker wat is die ding wat Willie weet wat kom, want die leser weet seker nie ook alles nie, Willie weet, want Willie Weetals...
Laat Willie egter by die begin begin, want dit is 'n baie beter plek om te begin as om by die einde te begin. Sienende dat dit iets is wat Willie gesien het, gaan Willie hierdie ding verduidelik soos iets wat iemand "gesien" het.
Willie sien 'n bult agter hom, hy loop tot bo-op die bult en sien in die verte 'n groot teerpad. Op die teerpad ry daar 'n oranje, wit en blou voertuig met 'n bleskop-man agter die stuur. Daar staan 'n menigte swart mense langs die pad wat opgelaai wil word. Die mense agter in die voertuig sê egter dat die bleskop-man hulle nie moet oplaai nie, want die mense agter in die voertuig het reeds betaal dat die menigte langs die pad hulle eie voertuie kan koop. Die mense langs die pad het egter nie mooi gekyk na hulle voertuie nie en die staan nou stukkend langs die pad. Die mense langs die pad is nou baie jaloers op die oranje, wit en blou voertuig. Weer betaal die mense agter in die voertuig om dié langs die pad se voertuie te laat regmaak. Die mense langs die pad kyk steeds nie mooi na hulle eie voertuie en wil graag die oranje, wit en blou voertuig hê.
Die bestuurder van die oranje, wit en blou voertuig is nou bang vir al die mense langs die pad, want hulle begin in die pad te dans en hy moet gereeld uitswaai. Van die mense agter in die voertuig sê dat hy oor hulle moet ry, want nou gooi hulle selfs klippe na die oranje, wit en blou voertuig. Die bleskop-man het nou 'n geel pak aan. Hy sê vir die mense agter in die voertuig dat hy net gou met die mense langs die pad wil praat, maar net as hulle ophou klippe gooi.
Hy stop die oranje, wit en blou voertuig en begin met die mense langs die pad te praat. Hulle druk 'n paar sente in sy hand en spring in die voertuig. Van die mense agter in die voertuig klim uit en spring op vliegtuie, weg – vir altyd! Ander word wreed by die voertuig uitgegooi. Die mooi pad is nou 'n grondpad, hoe verder die pad aangaan en nader kom aan Willie, hoe groter is die gate in die pad en hoe meer van die mense wat agter sit word wreed uitgegooi. Die voertuig is nie meer oranje, wit en blou nie, dit lyk nou soos 'n reënboog...
Dan snel die voertuig buite beheer verby Willie. Daar is nou nie meer 'n pad nie, die voertuig jaag sommer deur die veld. Van die mense agter in voertuig, wat nog die hele tyd aan die slaap was, word nou wakker, die een na die ander. Saggies begin hulle te kla dat die rit nou te rof is en dat te veel by die voertuig uitgegooi word. Ook kla hulle dat die eens mooi voertuig nie meer in so ’n goeie toestand is nie omdat die nuwe drywer nie na die voertuig kyk nie.
Die nuwe drywer luister nie na hulle nie, want hulle is baie en die wat agter sit is min...
Dan sien Willie 'n snaakse ding, die mense agter in die voertuig het nou hulle eie voertuig, dit is maar 'n klein voertuig, maar 'n mooi voertuig... dan word hierdie voertuig groter en die mense wat nog geslaap het agter in die reënboogvoertuig spring ook nou daarin. Die nuwe voertuig ry nou weer op 'n mooi gladde nuwe pad en in die verte sien Willie die ou voertuig het gebreek en staan nou doodstil...
1 Dec 2007
Die Bravolander - Desember 2007
Laai die volledige Desember-uitgawe in PDF-formaat hier af: Die Bravolander - Desember 2007
Paardekraal belofteklippe
Deur BEN GELDENHUYS
Op 12 April 1887 annekseer Sir Shepstone die ZAR namens Engeland, sonder dat 'n skoot geskiet is. Die anneksasie was 'n direkte gevolg van die ontdekking van goud in die ZAR, goud wat Engeland graag vir haarself wou hê.
Die gebeure is gevolg deur 'n periode van lydelike verset deur die burgers van die ZAR en ook is daar verskeie deputasies na Engeland gestuur. Hierdie deputasies en ook verskeie ander onderhandelings met Engeland het misluk en die burgers word opgeroep tot 'n vergadering te Paardekraal op 8 Desember 1880.
Tydens hierdie vergadering, besluit die sowat 8 000 burgers, dat die tyd aangebreek het om iets daadwerkliks te doen. Op 'n voorstel van Paul Kruger het die burgers 'n klipstapel gepak op die plek waar die monument vandag staan.
Op hierdie stadium is die Paardekraal Gelofte afgelê en die burgers beloof aan mekaar om nie op te hou veg voordat hulle hulle vryheid teruggekry het nie. Die klippe was ‘n simbool van hierdie belofte.
Hierdie byeenkoms het die slag van Majuba tot gevolg gehad en die herstel van vryheid van die ZAR op 27 Februarie 1881.
Die klippe is in opdrag van Lord Roberts in Junie 1901 verwyder en 'n deel daarvan is onder die treinbrug by Vereeniging in die Vaalrivier gegooi, 'n ander deel is in die see gegooi. Dit was tydens die Anglo-Boereoorlog (ABO) en Roberts het geweet hoe belangrik hierdie simbool vir
die burgers van die ZAR was. Hy sou ook graag hierdie belofte wat die burgers aan mekaar gemaak het en die Gelofte wat hulle gemaak het, wou verbreek.
Simbole speel in elke Volk se bestaan 'n belangrike rol, dit bind 'n Volk tot eenheid. Daarom ook dat daar so baie Volksimbole is, die bekendste is vlae en wapenskilde. Monumente en standbeelde verrig egter dieselfde rol en dit is dus nie verbasend dat die ANK daarvan 'n punt maak om van hierdie simbole ontslae te raak nie. Standbeelde word verwyder, monumente word verwoes en dit is onwettig om die ou vlae by sportbyeenkomste te swaai.
Die Paardekraal-klippe, of die belofteklippe, het vir die burgers van die ZAR baie waarde gehad. Die eerste vryheidsoorlog is gewen na aanleiding van die motivering wat die burgers geput het uit hierdie simbool. Die simboliese waarde was so groot dat Roberts geglo het dit sal die krygers van die ABO se moed breek indien dit verwyder word.
In die tye waarin ons leef, het ons Volk weer eens 'n simbool van hoop nodig. 'n Simbool wat ons bymekaar kan bring en ons vertroue in mekaar kan gee. Die ongeluk is dat ons Volk in die onlangse verlede soveel keer deur ons eie mense verraai en uitverkoop is, dat ons nie meer mekaar vertrou nie.
Tog weet ek, dat indien ons verby die kleinlike verskille kan kyk, sal ons agterkom dat ons almal dieselfde ding nastreef: VRYHEID!
Hieruit het dit vir my en die Paardekraal Verkenners 'n saak van erns geword om die belofteklippe terug te vind. Ons navorsing het aan die lig gebring dat 'n paar manne dieselfde wens gehad het en dat van die klippe reeds uit die rivier gehaal is! Die probleem was egter dat dit reeds in 1992 uitgehaal is, die vraag was nou, hoekom is dit nog nie teruggeplaas nie en waar is die klippe?
Die spoor het ons verder gelei na Clive Derby Lewis.
Clive Derby Lewis is die afgelope 15 jaar 'n politiese gevangene, maar kort voor sy inhegtenisneming, het hy en drie ander Engelsprekendes erns daarvan gemaak om die klippe terug te vind. Die verdeeldheid wat geheers het onder die Afrikaanse en Engelse blankes was vir Clive 'n ergernis en hulle het gehoop om met hierdie simbool versoening te smee. Die idee was om verskoning te vra aan die Volk vir die ongeregtighede wat Engeland ons aangedoen het.
Hulle het polisieduikers gebruik om onder die treinbrug te soek vir die klippe, maar dit was tevergeefs. Daar was geen klippe onder die brug nie. Hulle het dus by 'n kruispad gekom, of die klippe is nooit in die rivier gegooi nie, of hulle inligting was verkeerd oor waar dit in die rivier gegooi is. By nadere ondersoek sou hulle egter uitvind dat die treinbrug geskuif is en hulle is weer terug na die Vaalrivier. Hulle het die ou treinbrug gevind en het weer die polisieduikers ingespan.
Ek wens ek was daar toe die eerste klip uitgekom het, want in een area het hulle 'n klomp klippe ontdek! Dit móés die Paardekraal-klippe wees, want die klippe het in een kol gelê en in die omliggende area was daar nie klippe nie. Van die klippe is dan ook uit die rivier gehaal...
Clive is egter kort daarna gearresteer.
Met hierdie inligting tot ons beskikking was die groot vraag steeds: Waar is die klippe?
Die enigste uitweg was om vir Clive te gaan besoek en hoe jammer is ek dat ek dit nie lankal gedoen het nie. Hy het 'n algemene positiwiteit oor die lewe aan hom wat ek lanklaas in enige mens beleef het, dit was voorwaar 'n voorreg om hom te ontmoet... en die klippe, ja, die klippe mag ons kry!
Die Verkenners, in samewerking met Bravoland, gaan op 16 Desember 2007 hierdie klippe terugsit by die Paardekraal Monument.
******************************************************
Kersfees tydens die ABO
Deur JAN BEYERS
Die gedagte kom gereeld in mens se gedagtes op oor hoe die Boere tydens die Anglo-Boereoorlog gehandel het met Christelike feesdae, bv. Kersfees. Dit was swaar en moeilike tye. Baie meer as vandag. Was daar ook vreugdes en feesvieringe? Of het elkeen maar in depressiewe gedrag verval en net oorlog gemaak?
Die soeke het my op die volgende mooi stukkie geskiedenis laat afkom. Die vertelling is opgeteken in die boek “Vir Vryheid en vir Reg” onder redaksie van Marthinus van Bart en Leopold Scholtz.
Ek haal net so uit die boek aan:
Die bombardement van Ladysmith in Natal deur die Boeremagte onder kmdt.genl. Piet Joubert van die Zuid-Afrikaansche Republiek het op 16 Desember 1899 in alle erns begin. Die nuwe Franse Creusot- (Long Tom-) kanonne is daarvoor ingespan omdat hulle hul reuse-bomme tot 11 km ver kon slinger.
Die swaar bombardement het elke oggend met sonsopkoms begin en byna onophoudelik tot sononder voortgeduur. ‘n Long Tom kon 20 skote per uur afvuur. Die vuurdoop van kartetse (bomme gelaai met skroot) het die bevelvoerder van die vasgekeerde Britse leër, genl. George White, kwaai laat bontstaan. Op 21 Desember is die woning wat hy as hoof-kwartier opgeëis het, deur ‘n voltreffer in puin gelê. Hy het naelskraap aan die dood ontkom. Op ‘n ander dag het die kloktoring van die stadshuis aan skerwe gespat.
Die Britte het gehoop dat die ZAR-artilleriste hulle darem op Kersdag ‘n blaaskansie sou gun. White het selfs ‘n vrolike Kersboom laat oprig. Maar vroegoggend reeds is twee bomme uit Long Tom donderend op die kampe van die Natal Carbineers en die Imperial Light Horse afgevuur. Die missiele het,
wonder bo wonder, nie ontplof nie.
By nader ondersoek het die Kakies bemerk dat daar ‘n boodskap op elke projektiel geskryf was: “With the Compliments of the Season”. Versigtig is die bomme deur bomdeskundiges van die geniekorps oopgeskroef om hulle skadeloos te stel. Tot hulle stomme verbasing was dit nie gevul met plofstof nie, maar met heerlike vars Kerspoeding. Dit was Boeregemoedlikheid op sy beste!
Die res van die dag het daar ‘n gewyde stilte oor die gevegsfront geheers en albei kante kon ere-dienste hou, feesmaaltye nuttig en met speletjies en sport ontspan. Kersdag is eerbiedig.
Die volgende oggend is die oorlog met dodelike erns hervat toe Long Tom oudergewoonte met dagbreek ‘n gelaaide projektiel op die Kakies uitgespoeg het.
Met die stukkie wil ek nie net aantoon hoe ons voorvaders met dae soos Kersfees gehandel het nie, maar wil ook benadruk dat ons Volk nie moet verval in depressie en onderdruktheid van gemoed nie.
Al gaan dit party dae swaar, ons moet ons koppe optel, ons feesdae met ‘n feestelike gemoed deurbring, en dink aan die goedheid van ons Here Jesus. Mag die feestye ons Volk weer moed en krag gee om ons stryd verder te stry in die nuwe jaar. Geniet dit op die regte manier!
*************************************************************

Paardekraal Geloftefees 2007
Soos dit vir baie jare reeds die gebruik is, bied die Paardekraal Feeskommissie andermaal weer ’n Geloftefees op 16 Desember by die Paardekraal Monument in Krugersdorp aan.
Die Geloftefees word voorafgegaan deur ’n vroeë oggend erediens om vyfuur op Saterdag, 1 Desember, by die “Ou Kraal”, soos dit toentertyd bekend was. Die diens word so vroeg gehou omdat dit die Afrikaner-Boerevolk se gewoonte was om elke oggend, voordat die son uitgekom het, Bybel te lees, te sing en te bid. Die “Trekkers” het ook tydens die simboliese ossewatrek van 1938 by die “Ou Kraal”, voor sonop godsdiens gehou. Daarom word daar sedert 1939 nog elke jaar op 1 Desember, by die “Ou Kraal” ’n vroeë godsdiensoefening gehou om hierdie gebruik in herinnering te roep.
Die “Ou Kraal” staan vandag bekend as Pretoriuskraal en is in Keerombergstaat, Noordheuwel, Krugersdorp geleë.
Die prediker by hierdie geleentheid is ds. H.A. Retief Ned. Hervormde Gemeente, Noordrand.
Op Sondag, 16 Desember, sal die Geloftefeesvieringe eweneens met ’n erediens om sesuur die oggend begin, wat gelei sal word deur ds. D.A. van Rooyen van die Ned. Hervormde kerk Krugersdorp Wes.
Na ‘n kort pouse sal die verrigtinge voortgesit word met musiek en samesang, die hysing en ontplooiing van die vlae, die opneem van ’n kollekte en die voorlees van die 1880-Gelofte. Daarna sal professor Eric Holm feesrede lewer.
Na ’n verdere pouse en die voorlees van die1838-Gelofte, sal ds. PH. Huysteek van die Gereformeerde Gemeente, Motana van Pretoria, die Geloftediens waarneem, waarna afgesluit word met die sing van die Stem.
Vir meer inligting skakel die sekretaris, mnr. A. von Well by 082-348-3828 of Frans Viljoen by 011-665-1478.
Geloftenaweek-feesprogram
Saterdag 15 Desember 2007
18:00 - 21:00 Boeremusiek - Samesang - Volkspele opvoering
Sondag 16 Desember 2007
06:00 - 07:00 Oggenddiens - Ds. D.A. van Rooyen - Predikant van die Ned. Hervormde Kerk
07:00 - 08:45 Pouse
08:45 - 08:55 Samesang
08:55 - 09:00 Vlaghysing
09:00 - 09:05 Voorlees van die 1880 Gelofte.
09:05 - 09:10 Bekendstelling van die Spreker.
09:10 - 10:00 Feesboodskap deur Prof. Erik Holm
10:00 - 10:05 Bedanking van die Spreker
10:05 - 10:45 Pouse
10:45 - 10:55 Samesang
10:55 - 11:00 Voorlees van die 1838 Gelofte.
11:00 - 11:05 Bekendstelling van die Prediker.
11:05 - 11:50 Gelofte diens deur Ds. P.H. Huysteek (Gereformeerde kerk
11:50 - 11:55 Bedanking van die Prediker
11:55 - 12:00 Vlagstryking waarna Die Stem gesing word.
12:00 Afsluiting deur die voorsitter van die Paardekraal feeskommissie.
Bravoland ná sewe maande
Deur BEN GELDENHUYS
Dit is sewe maande sedert die ontstaan van Bravoland en vergun my die geleentheid om vir ‘n oomblik stil te staan by dit wat verrig is in dié tyd:
1. Die Triomfvlag is as Bravoland se amptelike vlag in gebruik geneem.
2. Die Bravolander – Bravoland se eie maandelikse nuusblad het die lig gesien en daar het reeds vier uitgawes verskyn.
3. Bravoland se leuse – In geloof ons vryheid – is deur die Burgers gekies.
4. Bravoland was betrokke by verskeie Volkshulpaksies: Wolmer, Parys, Wolmer senior en Krugersdorp Begraafplaas.
5. Op die kultuurakker het Bravoland ook gewoel. Bravoland was betrokke
by die skoonmaak van die Krugersdorp-konsentrasiekamp-kerkhof, ook by die Pretoria bly Pretoria optog en ook die betoging voor die hof m.b.t Pretoria en die Vlok-saak.
6. Bravoland se konsep-grondwet is geskryf en deur die Volksraad aanvaar.
7. Verskeie versetaksies is deur Bravolanders uitgevoer.
8. Bravoland het betrekkinge met verskeie volkseie organisasies.
9. Bravoland het die Reglement van Orde van die Afrikanerfront onderteken en is dus lid van die Afrikanerfront.
10. Bravoland se ledetal het gegroei tot oor die 500 lede in die sewe maande.
11. ‘n Tussenverkiesing is gehou en ‘n kabinet is aangestel.
Die fondament van Bravoland is gelê en dus is dit een en elkeen van ons
se plig om daarop voort te bou.
Die vraag wat ons onsself moet vra is: “Is ons tevrede met die vordering van Bravoland?” Bravoland is ‘n unieke konsep en dus is dit moeilik om te bepaal of ons die vordering wat daar was kan sien as suksesvol, want waarteen meet ons dit. Meet ons dit teen die NSA, is die antwoord onomwonde “JA”. Die probleem is egter, as jy jouself met ‘n donkie vergelyk en vind dat jy beter is, is jy op die beste ‘n muil!
Bravoland se plig is dus om haar eie standaard daar te stel en na daardie standaard te streef!
Daar is dus steeds baie werk wat wag. Werk wat gedoen moet word deur vrywillige hande. Bravoland is ‘n liefdesaak wat gedoen word deur Volksnasionaliste wie se strewe na vryheid so groot is dat hulle bereid is om opofferings te maak daarvoor.
Ek wil u een en elkeen bedank dat u bereid is om daardie opoffering te maak. Dat u bereid was om op te staan vir dit waarin u glo en toe u Volk u nodig gehad het vorentoe te tree en hierdie taak met oorgawe aangepak het.
Daar lê nog vir ons baie berge oor om te kruis, alleen kan niemand dit
doen nie, maar saam kan ons baie vermag.
*************************************************************
Bravodal se inwoners – vervolgverhaal deel 3
Bravodal is ’n fiktiewe dorp binne die grense van Bravoland. Die vervolgverhaal volg elke maand op mekaar, maar wat die verhaal so uniek maak, is dat dit elke maand deur ’n ander skrywer voortgesit word. Die derde maand se aflewering is geskryf deur die bobaas-skrywer, CLEM DE KLERK.
Gerhardus stap die trappies op na die huis van sy weldoener, wetende na aanleiding van die gesprek met tannie Roos, dat hy na ‘n veilige hawe geneem word. Hy kon Tannie Roos se verskoning met groot gemak afmaak met “toemaar Tannie Roos, Tannie hoef nie verskoning aan te bied nie, ek sou dieselfde gedoen het as ek in Tannie se skoene was”.
Tant Leen wag die twee glimlaggend in, en die warmte in haar stem laat by Gerhardus die gevoel ontstaan dat hy tuis gekom het...
Terwyl oom Joop sien hoe die laaste kliënt die winkel verlaat, merk hy ook hoe die blinknuwe Duitse motor reg voor die deur parkeer en ‘n jong man uitklim met aktetas in die hand, en met ‘n fierheid om die motor stap, reguit na die winkel waar oom Joop soek na die sleutels om te sluit.
“Goeiemiddag oom Joop, ek is Johan Wilkens,” groet die man en steek sy hand uit. Oom Joop druk die hand wat na hom uitgesteek word, maar die frons tussen sy oë verklap iets van verbasing en onbegrip.
“Goeiedag Vriend, jammer maar ek is nou onkant gevang. Is ek veronderstel om jou te ken as jy my so gemaklik op die voornaam aanspreek?”
“Nee Oom, ek glo nie Oom ken my nie, maar ek het vroeër vandag verneem dat Oom se besigheid hier is.” Oom Joop hoor die opregtheid in die stem, en hy begin grawe in die lêers van sy grysstof. Iewers is daar iets wat tog bekend voorkom, maar die jongman se stem ruk hom terug na die werklikheid.
“Oom Joop, Oom ken blykbaar al die mense van Bravodal, en ek het u hulp nodig, maar vergewe my as ek nou te vinnig op Oom afkom. Ken Oom iemand met die naam Leen, of miskien moet ek sê, Tannie Leen?”
Gerhardus sit op die voorstoep, die koffie smaak vorentoe en Tannie Leen se gasvryheid laat hom stom. Dat hy so sonder seremonie ontvang word asof hy maar altyd deel van die huishouding is, voel ietwat onwerklik. Hy hoor hoe Tant Leen met vaste stem sing terwyl sy besig is om aandete gereed te maak.
Oom Joop sal netnou hier opdaag, en dan wil sy eers gesprek voer met hom en alles hoor van Gerhardus. Foeitog, die kind was honger en hy het alles verorber wat sy vir hom met middagete voorgesit het. Die dankbaarheid in Gerhardus se kyk, en in sy stem, het iets in haar dieper wese aangeraak, en sy het geweet, haar ou man sou nie die jongman hierheen laat kom het as daar nie meriete in die saak is nie. Sy kan nie anders nie, maar haar gedagtes gaan terug na die tyd toe sy en Joop hier op Bravodal begin het met hul sakeonderneming. Haar gesig versag skielik, dit was moeilike dae, maar die herinneringe mooi, en hulle
het gelukkige jare saam help bou aan ‘n toekoms.
Tant Roos staan in die blomtuin, verwonder haar oor die onkruid wat so vinnig opskiet ná die reën, en wonder hoe sy dit alles gaan baasraak met die stywerigheid in die rug en die jare wat ook maar sy tol geëis het. Maar dit kwel nie so erg nie. Haar kop loop nou daar na Leen toe. Joop, die wonderlike goeie man, wat toe sommer so uit die bloute vir Gerhardus huisvesting bied, en Leen wat sonder om iets te wys, die jongman ontvang asof sy reeds dae lank weet van sy koms. Ja, die twee mense is bekend vir hul gasvryheid, en hulle is Christenmense wat die agting van Bravodal geniet. Maar tog, die hele saak is tog anders en vreemd. Sy skrik haar boeglam toe sy Joop se stem agter haar hoor.
“En as jy so dagdroom Rosie? Iets wat ek mag weet?” en die goedheid straal uit oom Joop se gesig. Met dieselfde warmte antwoord sy dat Joop haar laat skrik het terwyl sy gestaan en peins het oor die onkruid...
Laggend stap oom Joop verder, en waai joviaal totsiens vir die liewe vriendin wat oor al die jare haar besondere rol vervul het om goed te doen aan almal om haar heen. Die gedagte kom weer by hom op van wat Leen hom meegedeel het, en skielik is daar veerkrag in sy stap, en word hy haastig om by die huis te kom. Vanaand sal hy met Leen en Gerhardus om die tafel gaan sit vir aandete, en miskien moet hy na afloop van die huisgodsdiens die saak verder voer.
Sal hy dan die geleentheid gebruik om aan te kondig dat Johan Wilkens hier is, en dat daar belangrike sake is wat saam uitgeklaar moet word? Hy glo en vertrou dat hy die wysheid sal ontvang om Gerhardus met hom saam te neem...
Daardie aand staar tant Leen met verwondering na haar man as hy met diep basstem die Woord oordra so asof die Heer self hier langs hulle aan tafel is, en sy wonder oor wat in Joop se gemoed omgaan, want sy ken haar ou geliefde net te goed. Na al die jare is dit duidelik dat hy iets op die hart het. Sou dit te doen hê met die goeie nuus wat sy hom vertel het, of is daar iets wat sy nie weet nie, maar haar gedagtes word terug geruk as hy vra: “Gerhardus ou seun, sal jy vir ons voorgaan in gebed asseblief....”
Word vervolg . . .

Sal die laaste een wat loop asb. die ligte afskakel?
Deur WILLIE WEETALS
Willie sal graag wil weet (al is hy Weetals) wat gaan aan by Media24. Sien, die laaste paar weke het daar snaakse selfs skokkende dinge gebeur by Media24. Dit het alles begin met die sirkulasiesyfers wat "gekook" is (met sulke goeie kookwerk moet hulle dalk daaraan dink om huishoudkunde boeke uit te gee), natuurlik is dit afgemaak as 'n onskuldige fout, maar Willie Weetals, en Willie kon hulle seker die voordeel van die twyfel gee as dit nie was vir 'n paar desperate dinge wat gebeur het nie.
Die aanstelling en trekpas wat Deon Maas gekry het is maar een hiervan. Rapport moes tog geweet het en het dit tien teen een gedoen juis oor die kontroversie wat die man gaan veroorsaak. Kontroversie verkoop koerante. Toe daar egter gedreig is om die koerant te boikot, toe word daar skielik aangekondig dat hy in die pad gesteek word. Tog is hy steeds by die groep, die keer net by Sondag, nog 'n publikasie van Media24. Willie vermoed in elk geval dat Sondag gestig is om die Volk weer lus te maak vir koerantlees op Sondag en die hoop was seker dat die Volk dan eerder Rapport sal koop as Sondag.
Willie wonder ook of Rapport bang is dat die Volk eerder Sondag kerk toe gaan as om koerant te lees, die dat Rapport en Beeld nou die Christelike geloof aanval. Willie wonder maar Willie Weetals.
Nou word selfs die buitelewe joernalis Dana Snyman (die uwe, Pottie Potgieter) ingespan om kontroversie te ontlok in 'n artikel waar hy die spot dryf
met Die Onse Vader. Dit word natuurlik gedoen onder die dekmantel van "vryheid van spraak" maar mens wonder tog hoe hulle met hulle gewetens saamleef. ‘n Mens wonder, maar Willie Weetals.
Asof dit nie erg genoeg is nie, word die feminis en Volkshater Christi van der Westhuizen, outeur van die boek "White Power & the Rise and Fall of the National Party", ingespan in Beeld om die Afrikaner te verneder en van rassisme aan te kla omdat hulle durf waag het om te kla oor Maas se artikels. Ook bly die Christelike geloof nie ongeskonde nie, sy vertel met smaak dat dit 'n verskoning is om rassisties te wees. Willie wonder of sy saam met Koos Kombuis bedank het as Afrikaner, as sy het, kan die Afrikaners haar seker aankla van rassisme. Dit is mos net swart mense wat nie rassiste kan wees nie, ‘n eks-Afrikaner kan dan mos van haatspraak aangekla word. Sien, Willie Weetals.
Willie probeer hard om die feit te vergeet dat die groep so diep ingekruip is by die ANK dat dit nou al gewoonte geword het om die Afrikaner op enige denkbare manier te verkleineer, Willie probeer, maar ongelukkig Willie Weetals! Die Pretoria uitgawe van Beeld is ook nie Pretoria-Beeld nie, maar Tshwane-Beeld, dit terwyl die Afrikaner eindelose gevegte het vir die behoud van Pretoria se naam. Is dit dan verbasend dat hulle sirkulasiesyfers val? Nie vir Willie nie, Willie Weetals!!
Desperate mense doen desperate dinge, maar beteken dit dat 'n mens moet dom
dinge doen? Hoe kan 'n Afrikaanse koerantgroep daarop uitgaan om hul grootste ondersteunersbasis, die Afrikaners, te vervreem? Selfs Willie verstaan dit nie.
Daar is soveel positiewe dinge wat gebeur in Afrikaner geledere, maar daarvan lees mens nooit in die groep se koerante nie. Al wanneer hulle enige iets skryf oor CVO-skole of Radio Pretoria is wanneer dit negatief is. Oor Geloftefeeste swyg hulle ook asof daar nie so iets bestaan nie. Die beste van alles was die optog na die ANCBC, wat reg voor hul kantore verby is en waaroor daar ook niks gesê is nie. As hulle nie weet van die dinge nie, moet hulle net vra, Willie Weetals.
Die uurglas is besig om leeg te loop vir die groep, maar hulle sal seker wakker skrik wanneer dit te laat is. Krag is skaars in Afrika dus hoop Willie hulle onthou hierdie boodskap: "Sal die laaste een wat Media24 verlaat asb. die ligte afskakel?"
Groetnis,
Willie Weetals
************************************************************
’n Terugblik na die gebeure rondom 16 Desember 1838
Oorvertel deur ROOSMARYN
Aanloop na Die Slag van Bloedrivier
1838 was ‘n krisisjaar vir die Trekkers. In Februarie het die verraderlike moord op Retief en sy manne plaasgevind. Dit was ‘n groot slag in die weerbaarheid van die Trekkers. Daarna nog die slagting te Bloukrans en Weenen waartydens ongeveer 300 mans, vrouens en kinders wreedaardig vermoor is in een nag. Daarop het die noodlottige strafekspedisie waartydens Piet Uys die lewe laat in ‘n hinderlaag. Dit het bygedra tot onenigheid tussen die leiers en wat op sy beurt weer daartoe gelei het dat Potgieter en sy volgelinge die Trekkers in Natal verlaat en hulle in Noord-Transvaal gaan vestig het – Koppig en eiesinnig temidde van ‘n krisis.
Die oorvloedige reëns wat geval het, en die gevolglike modder het nie net siektes gebring nie, maar dit ook vir die Trekkers baie moeilik gemaak om te beweeg. ‘n Waardevolle kruitvat vol ammunisie wat vir die verdediging gebruik moes word het tydens so ‘n vertraging ontplof. Dan was daar nog die aanslae van duisende Zoeloes op verskeie trekgroepe. Voortdurend moes die Trekkers veglaers trek en die verskillende trekgroepe moes mekaar onderling te hulp snel om die ergste gevegte af te weer.
Op 24 September 1838, in die fleur van sy lewe, sterf een van die knapste Trekker-leiers, Gert Maritz, boonop.
Die voortdurende aanvalle van die Zoeloes het die Trekkers moedeloos gelaat en soms laat twyfel aan hierdie trekdaad waarmee hulle besig was. Berig was dat dit veral die geesteskrag van die vroue was wat verhoed het dat hulle omgedraai en teruggetrek het. Hiermee saam het die gedagte by die Trekkers ontstaan dat terwille van hulle selfbehoud en orde, die Zoeloes gestraf sal moet word.
Nadat Sarel Cilliers op ‘n sending Kaap toe is het hy vir Pretorius oorreed om die trekkers in Natal te gaan help.
Op 28 November het Andries Pretorius die kamp van die Trekkers binnegery. Nie net het hierdie groot man voorgekom as opgewek en iemand vol selfvertroue nie, hy was ook ‘n knap leier, ‘n strateeg van formaat en ‘n bewese krygkundige. Hy was vergesel deur sestig volgelinge vanuit die distrik Graaf-Reinet en ‘n brons kanon. Hierdie bekwame en voorspoedige boer het die nuwe Kommandant-Generaal van die Trekkers geword. Met sy fors gestalte en optrede het Andries Pretorius die bykans ontgogelde groep Trekkers van nuuts af geïnspireer en dit was onder sy bekwame leierskap wat die reëlings dan ook getref is vir die finale afrekening met Dingaan.
Pretorius het georganiseer, die Trekkers se situasie ontleed, deeglike voorbereidings getref rakende die waens, osse en veghekke. Hy het gesorg dat voedsel en ammunisie aangevul word en toegesien dat die Trekkers gereed gemaak word om aanvallend op te tree en terselfdertyd gehoop dat die Zoeloes defensief sal reageer.
Vroeg in Desember 1838 het Pretorius gevoel dat die tyd ryp is vir oorlog. Vierhonderd-vier-en-sestig Trekkers as sy volgelinge het die veiligheid van die kamp verlaat en koers gekies na Umgungundlovu.
Nieteenstaande teenstrydige gedagtes het hierdie kommando van Pretorius, vergesel van genoeg waens om ‘n laer te vorm, die pad aangedurf om die magtigste en bes-aangevoerde swart mag in die hele Afrika aan te val as dit moet.
Vir Pretorius en Sarel Cilliers, die geestelike leier van die Trekkers, het dit voorgekom asof die manne die versekering nodig gehad het dat God met hulle was en hulle sou bystaan, al was die Zoeloemag oorweldigend.
Sarel Cilliers se diep Godsdienstige oortuigings en die manne se behoefte aan versekering het gemaak dat hy hulle by Danskraal op die aand van 7 Desember rondom die kanon laat vergader het.
Cilliers het ‘n besielende preek gelewer en het hy die heilige Gelofte aan die Allerhoogste afgelê. Ook by Wasbank spruit op 9 Desember het Cilliers kragtige preke uit Josua en Rigters gelewer wat die groep Trekkers op Kommando die belangrikheid van die komende botsing laat besef het. Daarom het Cilliers en Pretorius ook die nageslag daaraan gebind. Nie net aan die slag nie, maar ook aan God. Hierdie was eerder ‘n daad van opregte geloof as van vrees.
“My broers en mede landgenote, hier staan ons voor ‘n Heilige God van hemel en aarde om ‘n Gelofte aan Hom te beloof, as Hy met Sy beskerming met ons sal wees en ons vyand in ons hand sal gee, dat ons die dag en datum elke jaar as ‘n dankdag soos ‘n Sabbat sal deurbring en dat ons ‘n tempel tot Sy eer sal oprig waar dit Hom sal behaag en dat ons dit ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot gedagtenis ook vir ons opkomende geslagte, want die eer van Sy naam sal daardeur verheerlik word dat die roem en die eer van die oorwinning aan Hom gegee sal word.”
So het hierdie Trekker-kommando van Pretorius dus die volgende dag verder getrek, druk in gesprek en met tye het selfs die gras en die diere van die velde saam met hulle gesange gesing. Deurentyd was die harte van hierdie kommando gevul met gebed.
Slegs klein voorvalletjies soos die kar van Alexander Biggar, ‘n handelaar uit Port Natal wat in ‘n bergpas in ‘n moeras beland en omgeslaan het, kon hul aandag van die stryd wat voorlê aftrek. Eie aan die Boere Trekkers se geaardheid het hulle daardie gedeelte van die berg toe Biggarsberg genoem.
Pretorius het sy manne met groot versigtigheid gelei, heeltyd bewus van die feit dat hulle deur die Zoeloe-spioene dopgehou word, reeds vandat hulle die kamp verlaat het, en nog meer dat Dingaan se leër reeds aan die opmars was.
Pretorius-hulle het op 15 Desember ‘n klein riviertjie Ncome bereik – vir die Zoeloes het Ncome die “lofwaardige een” beteken. Hierdie riviertjie was bekend vanweë die standhoudende water en groen oewers. Hier het Pretorius se verkenners ook ‘n groot Zoeloe-leër gesien en onmiddellik het Pretorius na ‘n geskikte oorlogsveld gesoek. Mens kon sê dat Pretorius die terrein strategies uitgesoek het vir die laer, maar Pretorius het besef dat die voorsieningheid hom nie na ‘n beter plek as juis hierdie een kon lei nie. Die terrein was ‘n grasbegroeide, maar oop vlakte met koppies naby. Met die blote oog het dit voorgekom asof die terrein maar plat is, maar in werklikheid was daar diep slote en watergate wat gebruik kon word om die Zoeloemagte in hul stormloop te kortwiek.
Pretorius het sy waarneming gemaak, die terrein vir die kamp uitgesoek, ‘n V-vormige stuk grond met die diep rivier aan die een kant en ‘n donga met regaf walle wat in die rivier uitmond, aan die anderkant. Dit was hier waar die Trekkers hulle waens in ‘n halfmaanvorm tussen die rivier en die donga opgestel het.
Die Zoeloes kan dalk weer in die nag soos by Bloukrans aanval en daarom het hulle – die Trekkers – die laer vir die nag beveilig deur lang lere wat met velle bedek was tussen die wawiele van wa tot wa aan te bring en hope kruit en patrone in gereedheid te bring. Ook het hulle lanterns met vetkerse aan die sweepstokke vasgemaak om darem so ‘n effense lig te hê.
Die gelofte is weer afgelê, die mis het opgekom en dit kon nou ‘n groot probleem skep vir die oopkruitaksie van die ou voorlaaiers.
16 Desember 1838
Die Slag van Bloedrivier as sodanig
Teen dagbreek van 16 Desember 1838 het die gevreesde Zoeloe-leër die Trekkerskamp bestorm. Tienduisend krygsmanne, getooi in hul velle en vere, gewapen met hul skilde en hul assegaaie. Met leiers vooraan het die impi’s op die laer afgestorm terwyl Ndela, hulle bevelvoerder, bevele vanaf ‘n strategiese plek na hulle skree. Drie keer het hulle probeer om die hardnekkige klein boere-laer te oorrompel, maar elke keer is hulle teruggedryf deur die kanonvuur van ou Grietjie en die koeëls van die Trekkers. Dit was ‘n woeste oggend wat Sarel Cilliers later as “ ’n geweldige geskree en lawaai en geweeklaag en ‘n see van swart gesigte en digte rookwolke wat loodreg van die grond af opgestyg het” beskryf het.
Bloedrivier was nie maar net nog ‘n slag gewees nie. Daar het iets bo-aards in die lug gehuiwer. Volgens vertelling het die Zoeloes nie in die nag aangeval nie, dalk was dit die lanternligte hoog bo die grond gewees wat spookagtig in die mis vertoon het?
Die Zoeloes het vroeg dagbreek aangeval en op die gegewe oomblik het die Boere met hul voorlaaiers almal gelyktydig langs die volle wa-sirkel laat knal en so die dood en verwoesting gesaai. Die Zoeloes het weer en weer gestorm, maar telkemale is die impi’s met dodelike reëlmaat afgemaai. Sodra die impi’s terugtrek het die vuur onmiddellik gestaak en het die gewere afgekoel.
Selfs met die bloeddorstige impi-krygers aan die voorpunt van die geveg het die Zoeloe bevelvoerder, Ndela, geen raad teen die ongenaakbare verwoesting uit die boere se geweerlope gehad nie. Sy taktiek bly dieselfde en telkens ervaar hulle net meer en meer makkers wat val.
Die impi’s begin huiwer en twyfel en Pretorius loods ‘n waaghalsige taktiek. Uitjaag-aanvalle na buite die laer word geloods en groepie vir groepie begin die Zoeloes vlug voor die dodelike ruiters. Die gevlug verander later in ‘n algemene vlug, en daarmee saam was die beslissendste veldslag in die wordingsgeskiedenis van die Afrikaner gelewer.
Drieduisend Zoeloes het in die aanvalle gesterf. Die Trekkers kon sien en hoor hoe die bevelvoerder sy manne probeer aanmoedig, maar lus vir die geveg was hulle nie meer. Die donga, die rivier en die grond rondom die waens was met Zoeloe-lyke en gewondes besaai.
Toe die Zoeloes die laaste aftog geblaas het, het die Trekkers hulle te perd agternagesit en verder op die vlug gejaag. So baie Zoeloes het gesterf dat die water rooi was van hulle bloed, vandaar die naam ook dan, Bloedrivier.
Daardie aand het die Trekkers hul oorwinning gevier deur die Here te dank, lofliedere te sing, die Gelofte met dankbare plegtigheid te herhaal en tot laat in die nag hul persoonlike ervarings met mekaar te deel.
Die volgende dag het Pretorius-hulle die laer afgebreek en nadat hulle ‘n stapel klippe gepak het om die plek van die geveg aan te dui, is hulle verder na Umgungundlovu.
Hulle het Umgungundlovu op die 20ste Desember bereik, maar die stat met sy 2 000 hutte was verlate en Dingaan se persoonlike verblyfplek het in ligte laaie gestaan...
Die Slag van Bloedrivier
(16 Desember 1838)
Deur Theo Wassenaar
Die Ooste gloei. Dit is die dag.
Wat vóór die Ooster-poorte wag
En aarsel om die donker waas,
Waar voor sy oog hang, weg te blaas:
Want o, wat sal sy oog aanskou –
Dan bloed, dan bloed, dan moord en rou?
Maar nee, hy skeur die sluier oop…
Dáár word Suid-Afrika gedoop!
Wat is dit, wat ek ginds gewaar,
Daar langs die donker berge, dáár?
Dit is Dingaan se swarte drom,
Dit is Dingaan! Die Zoeloes kom!
Gryp, Trekker, gryp jou kruit en roer
En staan jou man, jou naam is Boer!
Beskawing moet hier segevier,
Of Afrika is vir die dier!
Hul kom! Hul kom met woede aan,
Soos vuur, in hoë gras geslaan,
Wat, op die wind se vlug gedraag,
Al knett'rend oor die grassaad jaag,
En vir geen pad of vóórbrand stuit;
Die vlamme-arrems gryp vooruit,
Verteer al wat hul beet kan kry,
Tot as alléén nog orig bly.
Hul kom! Hul kom soos aasvoëls aan,
Die wye vlerke oopgeslaan,
En bek en pote rooi gekleur
Van prooi, nog pas uiteengeskeur.
O hoor hoe dreun dit, soos hul kom!
Die woel en wemel rond en om,
Van skildvel, assegai, barbaar!
Van Zoeloes, Zoeloes aan mekaar!
Hul storm! Hul storm! Die swarte drom,
En skreeu en bokspring soos hul kom.
Maar in die Treklaer is dit stil,
Want elke Boer weet wat hy wil:
So oog hou wag; sy hart herhaal
Die vroom gelofte elke maal,
En naas hom staan sy Sanna klaar,
Die kruit en koeëls lê bymekaar.
Hul kom! Hul Kom! . . . maar ry aan ry
Stort neer om daar vir goed te bly.
Die Sannas bulder, die osse brul
En hardloop rond, met angs vervul;
Dit kletter hier, dit knetter daar,
Dit reën asgaaie op die laer.
Hul kom! Hul kom!. . . maar deins weer trug.
Hul kom! . . . maar kom met weifelsug,
Hul kom! . . . maar weifel weer, weifel,
Hul kom! . . . dit was die laaste keer.
Dis moed, wat volhou na begin,
Vertroue is dit, wat oorwin.
Sou vier maal honderd Trekkers dan
Vir twaalf maal duisend Kaffers kan
Verslaan? Aanskou die water maar,
Aanskou die sloot, die vlakte dáár:
Drie duisend lyke daar lê daar rond! . . .
Pretorius alleen is lig gewond.
O hart, wat blydskap het gesmaak,
Wie kan die trotse dag genaak,
Van Afrika's beskawingsdoop,
En koud bloed deur sy hart laat loop?
Ja, Stem van donker Afrika,
Ons, wat jou naam met eer moes dra,
Ons woon hier op 'n wêrelddeel,
Ons moes regeer, en is verdeel!
*************************************************************

Red nou ’n volk met so ’n ATKV – Deel 2
Deur THYS HUMAN
Die ATKV-bestuur se standpunt en benadering is hoofsaaklik deur sy voorsitter, Johan van Schoor, uitgespel in sy voorsittersrede op die onlangse kongres en in ‘n uitgebreide artikel wat in Beeld verskyn het.
Kortliks stel hy die volgende:
1. Die ATKV is nie ‘n eksklusiewe Afrikaner-organisasie en gaan nie laer trek nie. “Ons wil hier saambly met ander mense,” het hy gesê.
2. Die Afrikaanse kultuur, kennis en kreatiwiteit is onmisbaar deel van ‘n suksesvolle Suid-Afrika. Daar is egter ruimte vir verskillende kulturele gebruike
en gewoontes.
3. Die ATKV sluit alle Afrikaanssprekendes in sy visie in en sluit niemand uit nie
4. Hy (Van Schoor) het ‘n probleem met Afrikaanse mense wat ander Afrikaanse mense uitsluit.
5. Moedertaalonderwys is vir
die ATKV baie belangrik, maar
dit mag nooit gebruik word vir die behoud van wit skole nie.
6. Die ATKV se lede is verteenwoordigend van die Afrikaanse gemeenskap, maar is nog nie verteenwoordigend genoeg van die bruin gemeenskap nie.
7. As Afrikaanse kultuur-organisasie staan die ATKV voor in die transformasiery.
8. Dit is nie waar dat die ATKV sy rug draai op die erfgoedere van die Afrikaner nie.
9. Daar bestaan nie iets soos ‘n “naatlose” Afrikaanse gemeenskap nie. Dit kan die beste as ‘n lappieskombers beskryf word wat nie net in kleur nie, maar ook in patrone verskil.
10. Die Afrikaner is deel van die Afrikaanse gemeenskap, maar die vryheid van assosiasie berus by die individu.
Dit is ‘n yslike spul stellings en met die eerste oogopslag sal heelwat mense nou nie ernstig fout vind met die meeste daarvan nie al is daar sekere dinge wat ‘n mens laat wonder. Maar krap ‘n bietjie die vernis en die versier-suiker weg en dinge lyk gans anders.
Net eers ‘n stelling of twee van my eie waarteen bostaande beskou moet word:
1. Daar bestaan nie iets soos ‘n “Afrikaanse kultuur” nie. Daar is wel ‘n Afrikaner-kultuur en seker ook ‘n Griekwa- en ‘n Khoi-San-kultuur (of dalk twee apartes). Maar ek dink nie ‘n mens kan van ‘n Kleurling-kultuur praat nie. Die punt is bloot dat kultuur nie in ’n taal gesetel is nie, maar in ‘n volk of selfs dan ‘n beduidende groep. Natuurlik is taal die belangrikste uitdrukkingswyse van ‘n kultuur en natuurlik deel ons en die Griekwas Afrikaans om gestalte aan ons kulture te gee en natuurlik is daar ruimte vir respek en erkenning van mekaar se eie en ook vir samewerking om ons gemeenskaplike taal te laat gedy, maar dit maak nog nie van ons een enkele volk nie.
2. Dit is dus misleidend om te praat van die “Afrikaanse gemeenskap”. Dit impliseer ‘n enkele kulturele, selfs maatskaplike en ook politieke entiteit wat eenvoudig nie bestaan nie en nie kan bestaan nie. Die term is in sigself hoogs politiek gelaai en as sulks ontoereikend om almal en al die verskillende “gemeenskappe” wat Afrikaans as voertaal het, saam te bind. Sy beeld van ’n lappieskombers is verkeerd en misleidend. En buitendien is dit mos ’n pure bontspul!
3. Terwyl Van Schoor (VanS) darem nog in teenstelling met Frits Kok die woord Afrikaner gebruik en skynbaar ’n verskil trek tussen Afrikaners en sekere ander gemeenskappe en volke, gebruik hy nie die woord “volk” nie. Hy sal dalk aanvoer dat hy dit impliseer deur die term Afrikaner te gebruik, maar dit lyk vir my na ’n doelbewuste vermyding van die term.
Nou kan ons na enkele stellings kyk:
1. VanS sê hy het ’n probleem met Afrikaanse mense wat ander Afrikaanse mense wil uitsluit. Hoekom het hy so ’n probleem? Wat is daarmee verkeerd om andere uit jou volksgeledere uit te sluit as hulle nie jou kultuur, jou geskiedenis en jou ideale deel nie? Wat is daarmee verkeerd om mense van ander kulture en gebruike selfs uit byvoorbeeld jou kerk te sluit as hulle onaanvaarbare en vernederende voorwaardes vir kerkeenheid stel? Kom ons neem ’n baie praktiese voorbeeld: Geloftedag. Hierdie herdenking van die Slag van Bloedrivier is
’n suiwer Afrikaner ding. Dit het vir die Kleurlinge en andere hoegenaamd geen betekenis nie. As ons nou Geloftedag gedenk, sluit ons daardie ander mense mos uit. Trouens, hulle sluit hulself eintlik uit want hulle stel eenvoudig nie belang in daardie deel van ons geskiedenis nie. Moet ons dan Geloftedag in die vullisblik gooi net om andere nie uit te sluit nie? Dieselfde geld vir ons herdenking van die Anglo-Boereoorloë, verering van ons helde soos Paul Kruger (en De la Rey!!) en vir ander dinge in die Afrikaner-geskiedenis.
2. Volgens VanS sluit die ATKV alle Afrikaanssprekendes in in sy visie in en sluit niemand uit nie. Wat presies is daardie visie? Net die behoud van Afrikaans as taal of die voortbestaan van die Afrikanervolk ook? Ek kry die indruk dit gaan vir VanS en sy genante eintlik net oor die taal. Die res is onderhandelbaar. Wel, hoe belangrik en goed dit ook al is om Afrikaans se voortbestaan te verseker, sal daar niks van kom as die Afrikanervolk nie meer bestaan nie want dit is eintlik in die volk dat die wese en siel van die taal gesetel is. Vir die ander is Afrikaans bloot ‘n gerieflikheids-meganisme van die oomblik en maklik vervangbaar - soos reeds besig is om die Kaap te gebeur.
3. VanS se stelling dat moedertaalonderwys belangrik is, maar nie as ‘n verskoning vir wit skole moet dien nie, is tipies van die kruiperige, “versoenende” houding van diegene wat ek as Afrikaanses bestempel. Behalwe vir die Kaap, is Afrikaanssprekende kinders in ons land feitlik uitsluitlik wit. Skole wat
op grond van Afrikaans as moedertaal ingerig is, sal feitlik uitsluitlik wit bly - en dis goed so want ons het die afgelope jare gesien wat gaan in ons skole aan as die volksvreemdes - swart of bruin - se getalle die oorhand kry.
4. In watter opsigte staan die ATKV voor in die trans-formasiery? Waar en hoe probeer hy transformeer en na wat? VanS erken dat hulle probeer om meer bruines as lede te werf, maar dit sukkel blykbaar. Ek het op die 2005-kongres ‘n paar bruin afgevaar-digdes daar gesien, maar hulle het maar bra verlore gelyk.
Die ATKV het glo een tak in Soweto. So ‘n klompie maande gelede het ‘n redaksielid van Beeld daar besoek gaan aflê en gevind dat die taklede met mekaar Engels praat! O griet! Hulle wil nie transformeer na Afrikaans nie. Moet die wit ATKV-lede nou transformeer na Engels? Dit is hierdie soort naïef--onnosele uitsprake wat ’n mens laat lag, maar ook diep bekommerd maak oor mense soos VanS se leierskap.
Een van die dinge wat my groot vraagtekens oor die doel, beleid en sieninge van die ATKV-bestuur laat stel is diegene wat hulle nooi om hul kongresse toe te spreek: Net in die afgelope paar jaar was dit Willie Esterhuizen (ja, die een van die Kaap), FW de Klerk, Conrad Sidego (Kleurling-joernalis), Jonathan Jansen (Afrikanerhater kleurling-akademikus) en een of meer van Naspers se kleurlingjoernaliste.
Sidego het op die jongste kongres sy kans waargeneem om snedig, maar verkeerd, na Orania as “rasbehep” te verwys. Dit is net die soort van houding wat hom by die ATKV se bestuur ‘n sterk kandidaat kan maak om by Coenie oor te vat! (Hou hierdie spasie dop!)
Ten slotte: My raad aan die ATKV is om weer nader te beweeg aan sy wortels en sy ankers in die Afrikanervolk sonder om sy goeie bande met ander Afrikaanssprekende VOLKE te verwerp. Daar IS ruimte vir ‘n organisasie wat sulke samewerking wil bevorder, maar slegs as dit op die regte basis van eie volkere geskied.
En as die ATKV nie wil nie, is my versoek dieselfde as aan die AHI: Verander asseblief julle naam en dan ook julle doelwitte en oogmerke soos steeds in
julle grondwet gestel word. Die gebruik van “kultuur” in dieselfde sin of naam as “Afrikaans” was miskien 50, 60 jaar gelede korrek. Dit is vandag misleidend en vals.
www.thysgenoot.blogspot.com

Besef die Afrikaner sy eie krag?
Deur CLEM DE KLERK
Die forse pres. Paul Kruger het by geleentheid, verwysende na die Britse magte se doel om die Boere-Republieke in te val, die volgende stelling gemaak: “Ons weerstand sal die wêreld verstom”. Daardie wyse woorde staan vandag nog vas. Tot vandag toe weet die wêreld van die Boer se geweldige verset, klein in getal, sterk in geloof, groot in daad.
Daardie krag waarna Oom Paul verwys het, lê nogsteeds gebed in die hart en siel en gees van die Afrikaner. Sy krag is oor lang tye met agting bejeën, word daar steeds met ontsag verwys na De Wet en De La Rey, maar daar eindig dit nie. Die vrees vir die slaankrag van die Verwoerd-tydvak staan helder voor die gees van die liberalis.
Die Afrikaner sal nie noodwendig die ingewikkeldste metode aanwend om sy slaankrag te demonstreer nie; loopgrawe was ’n logiese gevegsmetode, kernkrag-ontwikkeling ’n veel meer praktiese konsep, en hartoorplantings die beste keuse vir die tyd… Die beleg van Pretoria deur die destydse BKA het die sterkste weermag in Afrika lamgelê vir etlike dae, en later sou dit bekend word dat die Weermag tot op hede nie ’n antwoord kon vind wat as effektiewe teenvoeter kon dien nie.
En vandag? Die Afrikaner se slaankrag het groter geword, sy vermoë om weerstand te bied word geheel en al onderskat deur homself; sy wil om te oorleef gevrees deur diegene wat hom jaloers probeer nadoen... Dit bring onwillekeurig die vraag na vore: “Waarin lê sy krag?”
Afrikanerkrag is vandag geleë in sy ekonomiese vermoë, waar sy harde kontant die vyand kan laat steier. Sy oorspronklike denke maak hom ’n gedugte teenstander. Op ekonomiese terrein, met sy produksie-vermoë in die landbou, tot ver verby die hoë tegnologie, is alles onontbeerlik vir hierdie land se ordelike voortgang. As die Afrikaner sy belasting weerhou, sink die ekonomie en word die RSA die volgende Zimbabwe. Weerhou die Afrikaner sy kennis en vaardighede, verval die land tot iets wat grens aan totale hongersnood en bankrotskap.
Daardie dag wanneer die Afrikaner sy voedselproduksie slegs aan sy volksgenote beskikbaar stel sal Afrika verstaan wat lê in die krag van die Boer.
Maar bowe al kan daar met sekerheid verklaar word dat die Afrikaner sy onwrikbare geloof in die Drie-Enige God as grootste voordeel kan beskou. Dit is daardie geloof wat die Groot Trek gekenmerk het, wat die oorwinning by Bloedrivier en Vegkop gebring het... en wat steeds voortleef in die harte van die grootste deel van die Afrikanerdom.
Die Afrikanervolk se krag is soos heuning, soet op die tong, helend in sy werking. Sy liefde vir die eie maak hom rustig van geaardheid, maar vreesloos in die dag van afrekening.
Toe die Afrikaner sy eie Radio Pretoria gestig het, kon selfs die magtige Botha-regering dit nie stop nie. Selfs die tien jaar lange stryd in howe teen die huidige regering kon die Afrikaner se wil nie demp nie.
Dit is volbloed Afrikanerseuns wat die Afrikanerfront gestig het, met die doel om koördinerende aksies van stapel te stuur. Volksgerigte organisasies het met entoesiasme hul gewig ingegooi. Die Afrikanerfront kan en gaan waarskynlik vorentoe ’n faktor word waarmee enige teenstander rekening moet hou. Vanuit die Afrikanerfront sal nuwe aksies, nuwe dimensie en nuwe entoesiasme na vore kom wat uiteindelik weer waarheid en dieper betekenis gee aan die woorde “hoor jy die magtige dreuning, oor die veld kom dit …”
Hierdie klein, maar belangrike stappe is die eerste tree na vryheid, is geneem omdat daar nog steeds ’n onblusbare vuur in die Afrikaner brandende bly; brandende om weer as vrye volk op eie bodem sy mense te regeer soos wat Afrikaners dit nog altyd gedoen het, maar wagtend op die leiding van sy God en Heer.
Ongemerk begin die Afrikaner sy eie standaarde herstel. Hy stig weer sy eie skole, hergroepeer kerklik, vestig volksgerigte ondernemings, werk biddend aan projekte om sy oues van dae en die verarmdes op te rig, maar laat nie na om die jeug te verryk in kennis oor die aardbol heen terwyl hulle die dinamika van ambassadeurskap maksimaal ontgin, alles om uiteindelik weer in vryheid te leef.
As die Afrikaner sy sagte handskoene uittrek, vind jy hard geëelte hande wat iets weerspieël van sy diepste binneste wat met ’n ryp vrug vergelyk kan word. Heerlik en sag om te eet, tot by die pit – daardie pit wat te midde van die hardheid, weer die groei en bloei van ’n volgende geslag verseker.
As jong Afrikaners op 16 Desember in hul derduisende die “Stem van Suid-Afrika” jubelend sing op die Plein in Londen, dan sidder die hoorders en kerm die media.
Die saamtrekke op Majuba en Potchefstroom en Kerkplein in Pretoria, en nuwe volksliedjies soos “De La Rey” laat die Owerhede skarrel en kla en beskuldig, alles uit vrees vir Afrikanerkrag wat dalk mag ontspring... want sy nasionalisme gedy.
Laat die wêreld ons hoor: “Hierdie keer sal die mensdom met groter verbasing kennis neem van die weerstand wat gebied sal word as die uur van waarheid aanbreek.”
Saam sal ons die toekoms ingaan met die wete dat die God van Bloedrivier getrou bly aan sy Gelofte. Laat die Gelofte dan ook dien as inspirasie om ons kragte saam te snoer terwyl ons op koers is met ’n lied in die hart wat weerklank vind in die klowe van ons stryd:
“Op U almag vas vertrouend...”
Organisasies verenig in ’n Afrikanerfront
Op 10 November 2007 is die Afrikanerfront gestig.
Daar was 19 organisasies wat die Reglement van Orde onderteken het. Dit is die HNP, Verkenners, Aksie Vrouekrag, Volkseie Museumraad, Stigting vir Nasionale Minderhede, Bravoland, Afrikaner Volkseie Sport, Studiegroep vir Eietydse Geskiedenis, Tussentydse Afrikanerraad, Koördinerende Afrikanerraad, Genootskap vir Afrikaner Simbole, Boere-kommandokorps, Vrye Republi-keinse Beweging, Nasionale Belastingbetalersunie, Radio Pretoria, Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans, Bybel en Volk, Majuba Boerevolktrust en Tabok.
Die bestuur bestaan uit mnr. Willie Marais (voorsitter), prof. Hendrik van der Wateren (ondervoorsitter), mnr. Henk van de Graaf (sekretaris), mnr. Dolf Buitendach (tesourier), dr. Willie Snyman, mnr. Andries Breytenbach, dr. Sydney Gregan, mnr. André Alkema, prof. Adriaan Pont en mnr. Clem de Klerk.
Heelwat ander organisasies het die byeenkoms op 10 November as waarnemers bygewoon. Van hulle sal mettertyd by die Afrikanerfront aansluit wanneer hulle as organi-sasies oor die saak vergader het. Soos wat die tyd verloop, sal die strewe en doelstelling van die Afrikanerfront wyer bekend word en sal nog organisasies aansluit. Die strewe van die Afrikanerfront is die herwinning van die Afrikanervolk se vryheid, en die beginselbasis is Afrikanernasionalisme, nl. Blankeskap, Christenskap en Afrikanerskap.
Dat daar 'n waterskeidende gebeurtenis plaasgevind het, is verseker. Organisasies wat nie bereid is om deel van die Afrikaner-front te word nie, kan dié besluit net neem omdat nie met die strewe of die beginsels van die Front saamgestem word nie.
Die HNP is geluk gewens met die inisiatief om die Afrikanerfront tot stigting te bring.
Mag Afrikanernasionalisme hierdie beweging laat groei tot 'n magtige dreuning waaroor die berge sal antwoord gee, en mag ons Almagtige God, Skepper en Onderhouer van die lotgevalle van nasies ons volk hiermee bymekaarbring tot vrywording in ons vaderland!
***************************************************************