Die Republiek van Bravoland se e-koerant

Besoek ons by www.bravoland.co.za, hierdie is nie die amptelike webwerf van die Republiek van Bravoland nie.

28 Jan 2009

Stap vir stap na volksvryheid

Deur Clem de Klerk

Ons ken ons geskiedenis en daarom is Bravolanders nie in vertwyfeling oor waarheen hulle op pad is nie. Die pad na vryheid is nie die breë pad wat met duur Duitse motors bewandel word nie. Dit is die smal pad, waar klein oorwinnings die grootste kenmerk is. Daardie klein oorwinnings word bereik deur stap vir stap deur ’n proses van stryd te gaan.

As ons terug kyk sien ons die bakens van klein en groot oorwinnings. So klein as wat Volkskas begin het, so klein en dalk kleiner is ons poging om Oranjekas te vestig as ’n volkseie meganisme wat ons die volgende stap laat neem.

In hierdie ruwe land met sy onherbergsaamheid van vreemde kulture het die Afrikaner stap vir stap sy weg gebaan en die een struktuur na die ander gevestig – elke stap met ’n drieledige doel daarmee saam. ’n Verarmde volk moes geestelik en finansieel uit die modder opgetel word, daar moes ook ruimte geskep word om die opwelling van volksnasionalisme te huisves. Binne die kerklike omgewing en die kultuurorganisasies is hieraan beslag gegee. Die vestiging van ’n ekonomiese magsblok om werk te bied aan ons volk se opkomende geslagte, het aanleiding gegee tot talle sake- en nywerhede se vestiging.

Vandag, byna tagtig jaar later, is ons volk weer waar ons was. Stap vir stap het ons volk sy vryheid prys gegee. Eers is politieke vryheid geoffer ter wille van aansien en wêreldmening. Kort daarna het alles omgekeer en het gister se welslae, môre se nagmerrie geword.

Net soos wat die Boere generaals nie gehoor wou gee aan die versugting om die Britte in te wag by die hawes nie, net so is die geroep van vele behoudende Afrikaners nie gehoor toe die wolf in 1994 aan die voordeur klop nie. Stap vir stap het die Land van Sonskyn verander in ’n land van geweld, van moord en doodslag...

Natuurlik sal die Afrikaner nie graag die foute van die verlede wil herhaal nie – maar die een goeie en besondere eienskap van Afrikaners het hom ’n duur prys laat betaal – sy goedgelowigheid, lojaliteit en hoë agting vir sy leiers, het meegewerk om die 1994 verkiesing toe te laat.

Vandag het ons nuwe denke. Die behoudendes van weleer is by ons nie meer. Diegene wat steeds vasklou aan die verlede is nie beter of swakker as sy eweknie van môre nie. Vasklou aan die verlede beteken nie die vergeet van sy herkoms en sy heldedade nie. Vasklou aan die verlede beteken die valse hoop om gister te vervolmaak in die dag ná môre.

Daarmee as agtergrond sal Bravolanders stap vir stap moet beplan en besin, sodat alles in plek is wanneer ons die ryp vrugte van vryheid pluk, dat ons ’n draagbare houer sal vind daarvoor. Daar is diegene wat meen ons vorder nie, daar is ander wat vermaan dat ons te vinnig versnel. Tussen dit alles deur bly een saak voorop - ons sal met versigtigheid ons taak moet aanpak, dit stap vir stap afhandel in die stille wete: God regeer, en Sy wil sal geskied – hoe moeilik ons omstandighede ook al is.

Daarom is elke Bravolander verbind daartoe om eerbare, vredeliewende mense ook ons vriende sal wees.

Ons volk se heldedade word in geskiedenisboeke opgeteken en bewaar vir die geslagte wat kom. U en ek is die nuusmakers van môre – u en ek moet sorg dat daar uit Bravoland helde sal opstaan wat regverdiglik in die galery van ons volk sal wees – ’n Afrikaner wat alles geoffer het sodat die nageslag na Bravolanders sal verwys as vreesloos, diep gelowig, dapper. Maar om sulke eretitels te verwerf, beteken dat ons stap vir stap ons weg moet baan tot daar waar vryheid op ons wag!

No comments: