Die Republiek van Bravoland se e-koerant

Besoek ons by www.bravoland.co.za, hierdie is nie die amptelike webwerf van die Republiek van Bravoland nie.

20 Jan 2008

Die Bravolander - Januarie 2008

.
Laai die volledige Januarie-uitgawe in PDF-formaat hier af: Die Bravolander - Januarie 2007

Dit kan dalk gebeur – toekomsgerigte siening

Deur CLEM DE KLERK

Die jaar 2007 het geëindig met vreemde klanke in ons ore. Daardie klanke gaan weerklank vind in die klowe van 2008. Die wêreldpolitiek word hewiger, die ekonomiese bedrywighede van die wêreldburgers word al nouer en die oliemagnate spartel om vir oulaas miljarde in hul beurse te kry voordat die totale voorraad in duie stort.

Maar wat hou 2008 in vir die Witman in Afrika? Daar is goeie en slegte nuus. Die slegte nuus is dat 2009 veel slegter gaan wees as 2008 en die goeie nuus is dat 2007 beter was as wat 2008 gaan wees.

Maar kom ons bepaal ons tot die dinge wat werklik ’n invloed kan uitoefen op ons volksbestaan.

Die stryd tussen Zoeloe en Xhosa kan hewiger word as in ag geneem word dat die Xhosa’s besig is om Zuma te raam en skuldig te bevind voordat hy dalk verkies word tot president van die land. Hierteenoor is Zuma blykbaar besig, net soos met die verkiesing as ANC-president, om die voetvolk op te vorder tot ondersteuning vir sy aanslag. Dit bevat die implikasie dat vervolging mag plaasvind, maar dat skuldigbevinding uitgesluit word.

Wat ook al die uitkoms is, die geveg tussen hierdie twee volke het nog nie werklik begin nie, en gaan nie gou eindig nie. Die randeiers in die ANC is diegene wat hul steun gee aan die een wat die beste beloftes kan maak, wat die hardste kan praat oor wat hulle alles verniet gaan kry in ruil vir ’n stembus-kruisie. Die Xhosa-kamp sit met ’n yslike dilemma – hulle het nie ’n prominente leier in eie geledere wat oor die statuur beskik om president te word nie – en diegene wat wel oor die statuur mag beskik stel duidelik nie veel belang nie, of hulle geniet nie genoeg steun onder die voetvolk nie – en dit maak dat die ANC se Xhosa’s hulle kan wend tot uitdrywing van diegene in die Party wat in hulle pad staan.

Aan die anderkant is daar die kommunisties-gedrewe strukture wat Zuma steun omdat hy simbool geword het van wat in die kommunisme gesetel is, naamlik toepasser van ongerymdhede soos wat hulle self ook wil toepas. Hierby kan ook in aanmerking geneem word dat Cosatu, die Jeugliga en die Vroueliga almal wil sien dat hulle Leier net so “skuldig” moet wees as wat hulle self is – en dit verklaar waarom die sogenaamde Madiba aangehang is, en dalk nog aangehang word – hy is ’n “skuldige” terroris wat vrygelaat is.

Maar dat dit die begin is van hewige stryd onder die Afrikane in die land, moet niemand in twyfel trek nie. Die opsigtelike pogings wat in Pietersburg aangewend is om sogenaamde ANC-eenheid en ANC-demokrasie aan die ondersteuners te verkoop, is strategie van albei partye – die Thabo-lot teen die Jacob-seksie. Uiteindelik gaan die seepbel bars, maar die ontploffing gaan ook die blankes tref. Niemand sal die totale impak van so ’n ontploffing nou reeds kan uitspel nie. Die hewigheid van die ontploffing gaan ook bepaal word deur ander buitefaktore wat nie nou ter sake is nie.

In die buiteland gaan die VSA ook eersdaags stembus toe. Anders as in Kenia waar Afrika se wanorde die verkiesing in chaos gelaat het, sal die VSA weer die stryd tussen Republikein en Demokraat laat woed met die Dollar wat kwistig aangewend sal word om nog ’n welvarende die president van die VSA te maak. Wie ook al die leisels daar oorneem, is van weinig betekenis vir die RSA en van geen waarde vir die Boere-Afrikaner nie. Die verandering in leierskap kan wel ’n invloed uitoefen op die oorlog in die Ooste, die olie-voorsiening aan die VSA en ander wêrelddele.

Ons volk sal ook nuwe aksies van stapel stuur. Die skielike heengaan van die HNP-leier, mnr. W.T. Marais, beteken ook dat die Afrikanerfront ’n nuwe voorsitter moet aanwys, en die HNP sal skerp moet dink oor die pad vorentoe. Die Afrikanerfront sal in Januarie sy eerste vergadering van die dagbestuur hou waarin ’n hele paar sake eers afgehandel moet word alvorens daar met daadwerklike optrede begin kan word. Die saambinding van volksgenote sal deurlopend op die sakelys bly vir die Front. Dit kan ook nuwe veerkrag gee aan ons mense om betrokke te raak in die vryheidstryd.

Die Afrikaanse kerke sal ernstig moet besin oor hul belydenisskrifte, en as daar gehou word by die bestaande en erkende Skrifte, sal dit nuwe lewe blaas in die voortgang van ons volk.

Maar daar is ook uitdagings wat wag op elke burger van Bravoland. Die debatvoering wat vreugde en perspektief bied aan menige deelnemers sal nie net daarby bly nie. Doelgerigte take sal aangepak moet word om ons volk te rig en te lei. Hiervoor sal sterk leierskap nodig wees, nie net van die president van Bravoland nie, maar veel eerder deur sy volksraad en sy algemene burgery. Die nodige ondersteuning wat ons burgers behoort te bied, sal ook die vermoë van die president bepaal. Daardie eendragtigheid behoort dan ook neerslag te vind in ander strukture.

Miskien kan Bravoland een reuse-taak begin – en so sterk daarop konsentreer dat dit moet en sal lei tot uiteindelike sukses.

Die skrywer hiervan kan nie anders nie as om daardie doelwit te stel rondom ekonomiese krag. Dit is die een faktor wat nie onderskat mag word nie. Daar is soveel wat ons burgers (en Bravoland) kan vermag indien ons ’n Bravoland ekonomiese krag kan vestig. Bravoland behoort die leiding te neem in 2008 om selfs die Afrikanerfront te oortuig dat ’n Ekonomiese Kongres vanjaar gehou moet word – met sprekers en kundiges uit die ekonomiese wêreld.

As Bravoland dit gedoen het, dan het hy ’n bres geslaan vir die ganse Volk. Solank daardie ekonomiese kragte ontgin word binne die raamwerk van die Volk se geloofsetiek kan dit ’n reuse-stap wees op pad na totale vryheid.

Kom burgers, daar is werk wat wag!

********************************************************************



Nasionale simbole kompetisie

Tydens die Volksraadsitting van 17 November 2007, is daar besluit dat daar vir die burgers en vrywilligers gevra gaan word om te help met die ontwerp van Bravoland se nasionale simbole. Ontwerpe en voorstelle vir die volgende word verlang.

1. Volkslied
2. Vlaglied
3. Landswapen

Vir die ontwerp van die landswapen geld die volgende:

1. Enige simbole kan gebruik word mits dit binne ons kultuur is
2. Voorstelle moet asseblief van ‘n betekenis vergesel wees

Die sluitingsdatum vir voorstelle en ontwerpe is 29 Februarie 2008, en kan op een van die volgende metodes aan ons gestuur word.

1. Deur middel van e-pos kompetisie@bravoland.co.za
2. Slakkepos – Posbus 562, Groblersdal, 04703 (merk asseblief duidelik vir Sannie van der Walt).

Op ons webwerf www.bravoland.co.za/forum op die draad wat vir die kompetisie oopgemaak is.

Die wenner van die kompetisie sal aangewys word nadat die toepaslike simbole verkies is.


*************************************************************



Bravoland reik uit na Villa Gloria

Deur BEN GELDENHUYS

As gevolg van die rassistiese wetgewing – regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging – is die nood onder ons Volksgenote deesdae baie hoog. Bravoland het reeds vroeg in haar bestaan besef dat sy 'n poging moet aanwend om 'n verskil te maak, al is dit hoe klein in vergelyking met die nood wat bestaan. Dus en derhalwe is daar gereeld Volkshulp-aksies van stapel gestuur. In die meeste gevalle is daar gekonsentreer op voedsel, maar omdat dit Desember is, is daar besluit om dit spesiaal te maak vir 'n paar kinderhartjies.

Op die 17de Desember 2007 is 'n afvaardiging van Bravoland na “Villa Gloria” in Krugersdorp. Daar is Kersgeskenkies aan die kinders uitgedeel en ook voedsel oorhandig aan Villa Gloria se koskas. Uit die koskas word die behoeftigste van die mense onderhou. Ook is daar klere vir die klerekas oorhandig. Ook die klerekas, net soos die koskas, word bestuur en die bestuurstelsel verseker dat die persone wat werklik 'n nood het, dit ontvang.

Die verblydende nuus van die dag se gebeure was om te verneem dat twee gesinne permanente verblyf gevind het en dus Villa Gloria verlaat het. Sien, Villa Gloria word as 'n halfweghuis bestuur, meeste mense het geen werk of verblyf wanneer hulle daar aankom nie. Aan die mense word dan verblyf en voedsel gegee, en meer belangrik, word hulle gehelp om werk te kry. Wanneer hulle dan werk gekry het, betaal hulle 'n klein bedraggie huur, totdat hulle onafhanklik genoeg is om Villa Gloria te verlaat en permanente verblyf elders te kry.

Die bestuur was ook baie trots om ons in te lig dat al die kinders van Villa Gloria geslaag het by die skool.

Aan almal wat donasies gegee het vir hierdie Volkshulp-aksie wil ek my opregte dank uit spreek, ek glo dat hierdie aksie 'n paar kinders se harte bly gemaak het en ook hulle magies vol!


************************************************************



Geloftedag – 16 Desember 2007 - Bloedrivier

Deur PETER THOMAS

Die gevoel van opgewondenheid het al begin toe ons op die grondpad na die Bloedrivier-terrein afdraai.

By die terrein aangekom het die hoeveelheid mense daar my opgeval. Dit was ‘n feestelike stemming met vlae van die verskillende Boere-republieke wat oral gewapper het. Mense het al vir die vorige paar dae in die “laer” kampeer. Daar was “kenmekaar” geleentheid, boodskappe is uitgesaai, aand-kampvure met volksang, klei-os maak, jukskei en ander aktiwiteite om die mense besig te hou. Die kampkommandant se tent was omring deur tien vlae van die Boererepublieke.

Ons was net betyds vir die verrigtinge wat om 09:00 in die laer sou begin. Die hoogtepunt sou die herbevestiging deur die teenwoordiges van die Gelofte wees.

Toe ek die laer binnestap is dit asof ek deur ‘n onsigbare poort loop en 169 jaar in die verlede geplaas word.

In my geestesoog beleef ek daardie Sondag van die Slag van Bloedrivier. Ek hoor die geskree van die stormende Zoeloe-impi’s en die geweervuur van die Boere. Ek sien die digte rook van die kruitdampe, die diere wat verbouereerd rondmaal en ek hoor weer die aanhoudende, aanhoudende geweervuur. Skielik is ek weer terug in die hede en ek voel die hare op my arms regop staan.

Plekke is ingeneem op kampstoele of sommer so op die grond. Net na 09:00 het die perdekommando die laer binnegekom, die voorste tien ruiters elkeen met ‘n Boererepublieks- of Voortrekkervlag. Soos elke vlag in ‘n halfsirkel geplant is, is die herkoms van die vlag verduidelik.

Dan word daar uit volle bors gesing en na ‘n kort toespraak en gebed, vind die hoogtepunt van die dag plaas. Almal teenwoordig herbevestig hardop die Gelofte, ‘n paar honderd Christen-Afrikaners verenig in hulle opregtheid.

Die verrigtinge in die laer word afgesluit met die sing van al vier verse van die Stem. Ai, hoe wonderlik is dit nie om weer eens die Stem te sing soos dit moet gesing word, in Afrikaans!

Ons beweeg daarna almal na die saal toe vir die Geloftediens.

Gedurende voorsang sing ‘n nuwe sangeressie Coreen ‘n liedjie oor Bloedrivier wat spesiaal vir die Geloftefees geskryf is, ‘n toekomstige treffer as daar ooit een was!

Dan sing almal Psalm 146 en die skriflesing kom uit Lukas 11.

Ter afsluiting sing almal die Onse Vader.

Na ‘n kort pouse volg ‘n historiese voordrag en daarna is dit piekniektyd en gesellig saam verkeer.

So loop ‘n baie spesiale dag ten einde en in stilte pak ons die lang pad huis toe aan. Die gebeure van die dag nog te vars in die geheue vir onbelangrike praatjies.

Dag van versoening? Ek is oortuig nie een van die mense daar het aan versoening gedink nie, dit was Geloftedag, en die herbevestiging daarvan het alles daar oorheers.

************************************************************



Bravodal se inwonders - vervolgverhaal deel 4

Deur RUBEN BOTMA

Dis 19:30.

Johan Wilkens is besig om sy reistas uit te pak. ‘n Skielike beweging by die venster vang sy oog.

Hy staar stip na die kat wat langs die vensterbank opklim. Hy hou nie baie van katte nie, maar die Bergkrans Hotel is die enigste slaapplek wat hy op kort kennisgewing kon kry. Hoewel dit buite effe vervalle lyk, is dit duidelik dat die eienaars baie moeite gedoen het met die binne-versierings.

Dit voel amper asof hy in iemand se huis ‘n kamer huur.

Hy het homself voorgeneem om nie langer as drie dae op Bravodal deur te bring nie en daarom het hy slegs die nodige ingepak. Dit is ‘n belangrike saak wat hy met Tant Leen moet bespreek – een wat moontlik tot ongelukkigheid onder baie van die inwoners mag lei…

Hy dink na oor die afgelope vyf jaar. Hy het ongekende belangstelling in die saak op universiteit begin toon. Soveel so, dat hy sy verhandeling gebaseer het op die moontlike interpretasies van ‘n obskure bywet in die Bravoland Grondwet waaroor daar nog geen uitspraak in enige howe binne die Republiek was nie.

Dit bring die opgewondenheid weer sterk na vore en daardeur besef Johan dat hy weereens deur die nag gaan werk…

“Moet nooit onkant gevang word deur enigiets wat ‘n getuie mag kwytraak nie. As jy nie daarop voorbereid was nie, is jy nie jou sout werd nie,” was die dekaan van die Fakulteit Regsgeleerdheid se opinie oor die Regsprofessie.

Johan het dit sy slagspreuk gemaak; sy wese is daardeur in beslag geneem.

Omstreeks vieruur die volgende oggend het Johan bo-op sy skootrekenaar aan die slaap geraak. Sy beplanning vir die dag was feitlik uitgewerk. Sy belangrikste taak sou wees om met Tant Leen te gesels.

* * *

“Goeiemôre mnr. Wilkens. U het gevra dat ons u ontbyt direk na u kamer moet bring,” sê ‘n dun stemmetjie terwyl die kamerdeur op ‘n skrefie oopgemaak word.

Die reuk van koffie dring na hom toe deur.

“Goeiemôre, mej. ...?” begin Johan.

“Smit,” antwoord sy hom. “Ek hoop nie ek is te vroeg nie. U het ons laat weet dat u 06:00 koffie en beskuit wou hê.”

“Baie dankie, mej. Smit. Plaas dit asseblief op die lessenaar… Wag, laat ek gou plek maak vir die skinkbord…”

Johan se vingers is skielik dom. Hy slaag daarin op plek vir die skinkbord te maak, maar faal daarin om daardie boeke en papiere op die lessenaar te hou.

“Nee, toemaar. Ek sal dit optel,” sê Johan aan haar. “Ek… uh… Ag wat, dit moet maar daar bly.” Vererg skuif hy die boeke onder die lessenaar in met sy voet en hoor hoe die papiere frommel.

Mej. Smit sien hoe Johan poog om sy humeur te beteuel en kry ‘n skelm glimlag op haar gesig. “Ek het vir u ‘n skoon handdoek in die badkamer neergesit,” volg mej. Smit asof sy nie die vorige petalje aanskou het nie.

“Weer eens dankie, mej. Smit,” sê Johan terwyl hy probeer om nie geïrriteerd te lyk met homself nie.

“Indien u ons dalk benodig, kan u slegs die telefoon langs u bed optel en nommer 1 skakel. U word direk na die ontvangs toe deurgeskakel. Is daar nog iets wat u verlang, mnr. Wilkens?” Sy kyk hom vierkantig in die oë. Hy sien die uitdaging in haar oë.

“Mej. Smit, daar is een ding wat u vir my kan doen voordat u gaan… U voornaam asseblief.” Hy sien aan haar lyftaal dat sy dit nie verwag het nie.

“Alida,” sê sy voordat sy haarself uit die kamer haas. Sy moes omdraai en terugkom omdat sy vergeet het om die deur toe te maak. Terwyl sy die deur saggies toedruk, sê Johan: “Dankie vir jou moeite, Alida.”

Met ‘n sigbare bloos maak Alida die deur toe. Terwyl sy in die gang afstap hoor sy die sagte lag vanuit Johan se kamer. Mansmense darem, dink sy by haarself.

* * *

Johan maak homself klaar. Hoewel hy slegs twee ure se slaap in agter die rug het, weet hy dat hy ‘n effektiewe twee ure ingekry het. Meermale het hy tydens sy studies op minder as dit gaan eksamen skryf.

Johan neem die papiere wat op die lessenaar is en plaas dit binne sy aktetas. Hy weet hy moet vandag die onsmaaklike taak op homself neem om met Tant Leen te gesels. Hy hoop net dat sy nie te ontsteld sal raak nie.

Wat Johan egter nie gesien het toe hy die kamerdeur agter hom toegetrek het nie, is dat die belangrikste dokument onder een van die boeke onder die lessenaar bly lê het…

* * *

Alida het gewag totdat sy gesien het dat Johan in sy motor geklim het voordat sy dit weer buite die kombuis gewaag het.

Sy moet daagliks nuwe beddegoed in elke kamer op die beddens sit. Sy kon sien dat hy nie op sy bed geslaap het nie, maar die nuuskierigheid het haar beetgepak. Miskien is dit maar net sy manier van oogkontak hou as hy praat, dink sy. Dalk, maar Johan interesseer haar.

Sy neem ‘n stel skoon beddegoed op na die kamer en sluit die deur oop. Die kamer is feitlik presies soos dit is voordat iemand dit huur, behalwe vir die twee boeke en ‘n paar verfrommelde folio’s wat onder die lessenaar lê.

Sy besluit om eerste die boeke en papiere op te tel voordat sy die beddegoed ruil.

Die twee boeke lyk of hulle in ‘n biblioteek hoort: Familiereg binne die konteks van die Europese Eenheidstaat en Grondwet van die Republiek van Bravoland. Dit klink uiters vervelig, dink sy by haarself.

Sy besluit om maar die papiere ook op te tel. Die eerste een lyk of dit ‘n skedule van een of ander aard is. Al wat sy daarop kan uitmaak is die tye. Die res is alles in een of ander kode geskryf. Sy kan dit glad nie uitmaak nie.

Die volgende dokument lyk na ‘n amptelike regeringsdokument.

Die briefhoof dra die kenteken van die Departement van Familiesake en Welsyn. Sy weet sy moenie die dokument lees nie, maar sy kan haarself nie help nie…

Skielik snak sy na haar asem! Dit kan tog nie waar wees nie! Dit kan nie! Sy los die papiere en dokumente net so op die lessenaar en storm by die kamer uit…

Mag sy iemand vertel of moet sy eers vir Johan daaroor konfronteer?

************************************************************



Paardekraal-Geloftefees 2007

Deur KARINA DE JAGER

In byna elke volk se geskiedenis is daar belangrike gebeure wat op ‘n spesifieke manier herdenk word.

Een van die belangrikste herdenkingsdae in die Afrikanervolk se geskiedenis is Geloftedag. ‘n Gelofte is ‘n belofte wat ons aan God maak en in die aanloop na die Slag van Bloedrivier het die Voortrekkers gevra dat die Here die Zoeloes in hul hand moet gee as dit Sy wil is, en met die oorwinning oor die Zoeloes het die Voortrekkers op die 16de Desember 1838 ‘n belofte aan die Here gemaak dat ons hierdie dag elke jaar sal herdenk en as ‘n Sabbat sal deurbring.

Meer as 40 jaar later, weens die Engelse se aanslae op die Voortrekkers se vryheid, word die Gelofte herbevestig in 1880 te Paardekraal en ‘n klipstapel is deur ongeveer 8 000 burgers gepak as voorneme om nie op te hou veg totdat hulle hul vryheid herwin het nie. Hierdie klipstapel is gepak op die presiese plek waar die Paardekraal-Monument vandag staan.

In 1901 het lord Roberts opdrag gegee dat die Engelse hierdie klippe per trein na die Vaalrivier vervoer en dit onder die treinbrug in die rivier gooi. Dit was asof die burgers se moed gebreek was na hierdie aksie deur die Engelse.

Met hierdie geskiedkundige gebeure vars in die geheue reël die Paardekraal Verkenners die Geloftedagvieringe te Paardekraal-Monument, soos elke ander jaar en die Verkenners en Bravoland kamp van die Vrydag tot die Sondag by die Monument.

Vrydagnamiddag 14 Desember begin die groot volksaamtrek en woonwaens en tente word in ‘n laer opgeslaan en daardie aand word daar gekuier rondom die braaivleisvure. Na die aand se geselligheid is almal in twee uur-skofte ingedeel en daar is waggestaan regdeur die nag, wanneer jou skof verby was moes jy die volgende mense wie se beurt dit was, wakker maak.

Saterdagoggend het begin met ‘n vlagseremonie waar die Transvaalse Vierkleur en die Triomfvlag van Bravoland gehys is. Daarna het die groot skoonmaak- en opruimingsaksie begin. Die banke van die amfiteater is gewas, die badkamers skoongemaak en die area rondom die monument is opgeruim. Teen die middag was alles gereed vir die volgende dag se Geloftedagverrigtinge.

Daardie middag het die feesprogram afgeskop met boeresport. Almal is in twee spanne opgedeel met ongeveer 15 lede in elke span, die De la Rey-span onder leiding van Ben Geldenhuys en Chris Hoogendijk as die leier van die De Wet-span. Die kompetisie was straf en met groot opwinding is daar eiergegooi, met ‘n eier op ‘n lepel gehardloop, tougetrek, sakresies gehou en heel laaste is daar skyfgeskiet met windbukse. Vir al die aktiwiteite is punte toegeken aan die onderskeie spanne en met die skyfskiet is daar nie net aan die spanne punte toegeken nie, maar ook aan elke individuele skut. Na afloop van die boeresport is die punte van elke span opgetel en die De la Rey-span het as oorwinnaars uit die stryd getree. Die boeresportdag is afgesluit met ‘n prysuitdeling vir die top-skuts van die dag met pragtige pryse geborg deur Camdix in Krugersdorp.

Om 18:00 het die aand se verrigtinge afgeskop met Volkspele en tot groot vermaak van die toeskouers (en die deelnemers) het ons leke ook ‘n beurt gekry om ons staal te wys in die Volkspele-arena. Dit het dalk tot groot frustrasie van die professionele Volkspelers gelei, maar dit was baie pret. Sangers en ‘n musiekgroep het gesorg vir die vermaak vir die res van die aand en die kampeerders het – so tussendeur die reën – weer tot laat om die braaivleisvure gekuier.

Die Sondagoggend was almal 04:30 uit die vere om gereed te maak vir die vroeë oggenddiens wat om 06:00 begin het. Hierdie diens is waargeneem deur ds. D.A. van Rooyen waarna daar vir ‘n uur pouse was en almal koffie gedrink en ontbyt geëet het. Om 08:45 het die program voortgegaan met samesang en vlaghysing en die ontplooiing van twee reusagtige vlae – die Transvaalse Vierkleur en die Vrystaatse Vierkleur – aan weerskante van die Paardekraal-Monument, waarna die 1880-Gelofte voorgelees is. Die feesrede is gelewer deur prof. Erik Holm.

Mense vra so dikwels “kan die Afrikanervolk onsself as ‘n afsonderlike volk beskou?”. “Wat maak ons anders as enige ander Westerse volk, wat maak ons uniek?” Prof. Holm het in sy feesrede die volgende onder ons aandag gebring, en ek haal die volgende aan uit Tannie Anita du Plessis se “Boeremag”-dagboek op die Bravoland-forum:

Prof. Eric Holm het in sy rede verduidelik dat die Gelofte op drie bene staan: ‘n godsdienstige en ‘n militêre been, maar ook ‘n baie belangrike derde been – dié van ‘n Volksverbond. Hy het verduidelik van genepoele in die wetenskaplike wêreld waar ‘n kompleks gene ‘n ras bepaal met variasie binne-in. Hy het vertel dat “meme” die gene van idees is en dat ons aan ons volk moet begin dink in terme van ‘n memepoel. Net soos ons in terme van genekomplekse as van Europese afkoms geklassifiseer kan word, word ons in terme van idees in meemplekse uitgesonder. Hy het, op sy tipies wetenskaplike manier, ons as Verbondsvolk gaan dissekteer – die meme, waaraan ons uitken word, gaan ontleed en die volgende kenmerke van die Verbondsvolk opgenoem:
1. ons taal, Afrikaans
2. ons kultuur en geskiedenis
3. ons humorsin (eie aan die Afrikanervolk)
4. ons Christelike etiek (of ons as individue nou aan ‘n kerk behoort of nie)
5. ons snaakse hardkoppige ondernemerskap (“ons vat nie orders nie, maar kan ons planne maak...”)
6. ‘n eienaardige individualisme (wat maak dat ons nie maklik saamwerk nie)

Na nog ‘n pouse was daar weer samesang om 10:45 en die voorlees van die 1838-Gelofte. Die Geloftediens is waargeneem deur ds. P.H. Huystek en in hierdie tyd het daar ‘n hewige reënbui losgebars. Ironies genoeg, hoe meer ds. Huystek oor Noag preek, hoe harder het dit gereën. Dit was ‘n ongelooflike ervaring... Na afloop van die diens is die vlae gestryk en die Stem van Suid-Afrika gesing. Daar is niks wat die gevoel van volkstrots aanwakker soos deur die sing van die Stem nie, dan besef ons net weer ons is aan die suidpunt van Afrika geplaas met ‘n rede, en dat God dalk weer eendag vir ons ‘n oorwinning sal gee soos vir die Voortrekkers by Bloedrivier sodat ons weer ‘n vrye volk kan wees.

Die Geloftedag is afgesluit met ‘n boodskap deur die voorsitter van die Paardekraal-Feeskommissie.

In die vorige uitgawe van Die Bravolander het ons vertel van die Belofte-klippe, die klippe van die klipstapel wat deur die Engelse in die Vaalrivier gegooi is. Die Paardekraal Verkenners het baie navorsing gedoen oor hierdie klippe en uitgevind dat Clive Derby Lewis, wat in C-Max-gevangenis is vir deelname aan die moord op Chris Hani, van hierdie klippe laat uitduik het. Ben Geldenhuys en Chris Hoogendijk het gaan besoek aflê aan Clive om uit te vind wat van die klippe geword het, en Clive het gesê ons kan die klippe kry.

Wat hierdie Geloftedag so ekstra spesiaal gemaak het, is dat ons die voorreg gehad om na afloop van die dag se verrigtinge hierdie klippe weer terug onder die Paardekraal-Monument kon pak. As u eendag gaan besoek aflê aan die Paardekraal-Monument sal u hierdie klippe onder die monument by die gedenksteen sien.

Hierdie jaar, 2008, is die 170-jarige herdenking van die Slag van Bloedrivier en ek wil vandag ‘n beroep op elkeen doen om hierdie dag saam met ons te Paardekraal te herdenk.

************************************************************


Die siekte van ‘n skuldgevoel

Deur JAN VAN ZYL

Ek was so ‘n paar weke terug vir ‘n saak in die Konstitusionele Hof in Johannesburg. Hierdie moreel onbegronde hof vind jy in die oorblyfsels van die voorheen Nommer 4 tronk, wat deel uitgemaak het van die ou Fort, waar terroriste soos onder andere Nelson Mandela aangehou is.

Konstitusionele Heuwel, waar die hof en tronkmuseums ens. staan, word deur die ANC voorgehou as een van die morele regverdigingsgronde waarom die nuwe bestel sodanig legitiem sou wees. Net soos die Apartheid Museum en “Freedom Park”, word hierdie propaganda-struktuur met groot koste getooi en in stand gehou in die gees van die “nuwe” Suid-Afrika. Dit terwyl daar skaars ‘n blok vanaf die Konstitusionele Hof op groot skaal geroof, verkrag en vermoor word. In die moderne samelewing weet die ANC goed dat die leuen verbloem in ‘n waas van liberale propaganda maklik deur die publiek soos soetkoek opgevreet sal word.

Die oorhoofse doel van elke ANC monument en museum, is dan ook om hierdie leuen weer te bevestig, te versterk en aggressief na buite te propageer. As ‘n blatante leuen in die proses vertel word, is dit aanvaarbaar gesien in die lig dat apartheid ‘n “misdaad teen die mensdom” sou wees. So vind ons in die nuwe ANC-gefinansierde Bloedrivier-museum (net oorkant die rivier van ons eie Bloedsrivier-monument) die geskiedenis amptelik voorgehou as volg: Piet Retief en sy manskappe is om die lewe gebring omdat hulle gevang was waar hulle naby Dingaan se hut in die nag besig was met “loitering” en toordery. Van die Voortrekkers het onbehoorlik teenoor die Zoeloedames opgetree, en hulle probeer verlei. Verder verdien hulle om doodgemaak te word, omdat hulle van die Zoeloes almal slawe en Christene wou maak. Daar was nooit ‘n traktaat nie, en Bloedrivier was nie ‘n oorwinning nie aangesien net ‘n paar honderd krygers aan die slag deelgeneem het.

Die vorme wat die leuen van die “nuwe” Suid-Afrika aanneem, vind op verskillende wyses plaas. Aan die swart massa word die illusie voorgehou dat hulle inderwaarheid nou vry is, en dat dit sogenaamd beter met hulle sou gaan. Aan die Afrikaner, wat kan sien dat dit eintlik nie so goed gaan nie, word die herhaalde refrein in ons kele afgedruk dat ons skuldig is. Vir alles skuldig is.

Hierdie skuldgevoel werk soos ‘n virus. Dit gryp die oningeligte aan sy keel, laat hom smoor van skaamkry. Die stommerik sê gevolglik dan net ja en amen op elke immoreel waansinnige ANC-daad. Met bloedstollende oë kyk hy jou angsbevange aan as jy dit sou waag om kritiek uit te spreek teenoor die regering. Ons is mos dan skuldig. Sleg en verkeerd. En ons moet betaal. En nooit ophou betaal nie.

Hierdie skuldgevoel versmoor alle vorme van logika, dit beklemtoon die persoon wat net saam met die stroom beweeg se swak karakter, en maak inderdaad van ons volk slawe.

Ons eie mense kan ook nie ophou om oor hul voete te val om hierdie gedrog van ‘n regering ter wille te wees nie. Verdwaalde siele soos die FAK, ATKV en die Voortrekkers (huidige jeugbeweging, beslis nie die Voortrekkers van destyds nie) probeer hard om elke opdrag van die ANC uit te voer. Terselfdertyd ontwikkel daar ook onder ons eie mense die gees van “happy” wees. Almal moet net “happy” wees, almal se vriende wees, en basies almal probeer tevrede stel. Hierdie is die tipiese simptoom van ‘n volk wat te skaam geword het om vir hul beginsels op te staan.

In ‘n maand waar ons weer Geloftefees gehou het, moet ons vir ‘n oomblik stilstaan en ons situasie met realisme in die oë kyk. Vir ons om as volk weer ‘n regmatige plek in Afrika in te neem, moet ons terugkeer na die basiese beginsels. En dit begin deur ‘n gees van nasionalisme te kweek. ‘n Gees van trots op wie en wat ons is. Ons behoort oor niks skaam te voel nie. Die ander volke in SA is diegene wat skaam behoort te voel, bloot vanweë die feit dat hulle ons so terug gehou het. Dit maak nie saak wat die leuen is wat die ANC aan ons probeer voorhou nie, die waarheid kan nie verbloem word nie.

As daar een boodskap van die ou Voortrekkers is wat veral in hierdie tyd tot ons behoort te spreek, is dit die gees van trots wees op wie en wat ons is. Die Voortrekkers het nie jammer gesê omdat hulle getrek het nie. Hulle het ook beslis nie jammer gesê omdat hulle hulself verdedig het teen die aanslae van barbare nie.

Die ANC was nog altyd immoreel. Hulle is dit, en sal dit ook altyd bly. In die einste Konstitusionele Hof, net voor jy by die hof instap, is daar twee groot koper deure waardeur jy moet loop. Daar by die ingang is ‘n plaat aangebring met die woorde van Nelson Mandela, waar hy sy hoop uitspreek dat hierdie hof waarlik vir almal in Suid-Afrika regverdigheid, billikheid en vryheid sal bring. Skaars drie meter regs van hierdie plaat is daar graffiti op ‘n ou tronkmuur geverf. Die woorde skree dit uit: “Viva MK” (ANC se terroriste vleuel, wat vandag sterk verdink word vir baie plaasaanvalle). In daardie hof, die regering se liberale konstitusionele vrymakende struktuur, kan die haat en wrewel, die terrorisme, die onregverdigheid en onbillikheid net eenvoudig nie weggesteek word nie.

Dit spreek daartoe dat selfs die liberalis se droom van ‘n Grondwet en menseregte-hof inderwaarheid reeds met die hof se opening gesneuwel het voor die barbarisme van Afrika.

As dit die blatante wyse is hoe die regering hul gruweldade goedpraat, waaroor durf ons skaam te voel? Laat ons as volk hierdie jaar met trots instap. Vir niemand vra ons verskoning nie, van niemand vra ons toestemming om hier te mag wees nie. Die gees van al die geslagte voor ons, ja daardie gees van trots wees, dit is die gees wat ons vyande soos mis voor die son sal laat verdwyn.

“Hier staan ons trots, ons durf nie anders nie.”

************************************************************


Willie wil ook sien

Deur WILLIE WEETALS

Willie sien 'n ding kom, 'n ding waarvoor Willie al lankal wag. Dit beteken nou nie dat Willie nou Siener Weetals is nie, om Weetals te wees, beteken nie dat Willie die toekoms moet kan voorspel of "sien" nie. Daar het egter 'n paar dinge gebeur wat vir Willie beteken dat daar 'n ding kom, want Willie sien helder wat om hom aangaan maar dit beteken nie dat hy nou gesigte sien of heldersiende geword het nie.

Nou wonder die leser seker wat is die ding wat Willie weet wat kom, want die leser weet seker nie ook alles nie, Willie weet, want Willie Weetals...

Laat Willie egter by die begin begin, want dit is 'n baie beter plek om te begin as om by die einde te begin. Sienende dat dit iets is wat Willie gesien het, gaan Willie hierdie ding verduidelik soos iets wat iemand "gesien" het.

Willie sien 'n bult agter hom, hy loop tot bo-op die bult en sien in die verte 'n groot teerpad. Op die teerpad ry daar 'n oranje, wit en blou voertuig met 'n bleskop-man agter die stuur. Daar staan 'n menigte swart mense langs die pad wat opgelaai wil word. Die mense agter in die voertuig sê egter dat die bleskop-man hulle nie moet oplaai nie, want die mense agter in die voertuig het reeds betaal dat die menigte langs die pad hulle eie voertuie kan koop. Die mense langs die pad het egter nie mooi gekyk na hulle voertuie nie en die staan nou stukkend langs die pad. Die mense langs die pad is nou baie jaloers op die oranje, wit en blou voertuig. Weer betaal die mense agter in die voertuig om dié langs die pad se voertuie te laat regmaak. Die mense langs die pad kyk steeds nie mooi na hulle eie voertuie en wil graag die oranje, wit en blou voertuig hê.

Die bestuurder van die oranje, wit en blou voertuig is nou bang vir al die mense langs die pad, want hulle begin in die pad te dans en hy moet gereeld uitswaai. Van die mense agter in die voertuig sê dat hy oor hulle moet ry, want nou gooi hulle selfs klippe na die oranje, wit en blou voertuig. Die bleskop-man het nou 'n geel pak aan. Hy sê vir die mense agter in die voertuig dat hy net gou met die mense langs die pad wil praat, maar net as hulle ophou klippe gooi.

Hy stop die oranje, wit en blou voertuig en begin met die mense langs die pad te praat. Hulle druk 'n paar sente in sy hand en spring in die voertuig. Van die mense agter in die voertuig klim uit en spring op vliegtuie, weg – vir altyd! Ander word wreed by die voertuig uitgegooi. Die mooi pad is nou 'n grondpad, hoe verder die pad aangaan en nader kom aan Willie, hoe groter is die gate in die pad en hoe meer van die mense wat agter sit word wreed uitgegooi. Die voertuig is nie meer oranje, wit en blou nie, dit lyk nou soos 'n reënboog...

Dan snel die voertuig buite beheer verby Willie. Daar is nou nie meer 'n pad nie, die voertuig jaag sommer deur die veld. Van die mense agter in voertuig, wat nog die hele tyd aan die slaap was, word nou wakker, die een na die ander. Saggies begin hulle te kla dat die rit nou te rof is en dat te veel by die voertuig uitgegooi word. Ook kla hulle dat die eens mooi voertuig nie meer in so ’n goeie toestand is nie omdat die nuwe drywer nie na die voertuig kyk nie.

Die nuwe drywer luister nie na hulle nie, want hulle is baie en die wat agter sit is min...

Dan sien Willie 'n snaakse ding, die mense agter in die voertuig het nou hulle eie voertuig, dit is maar 'n klein voertuig, maar 'n mooi voertuig... dan word hierdie voertuig groter en die mense wat nog geslaap het agter in die reënboogvoertuig spring ook nou daarin. Die nuwe voertuig ry nou weer op 'n mooi gladde nuwe pad en in die verte sien Willie die ou voertuig het gebreek en staan nou doodstil...

No comments: