Die Republiek van Bravoland se e-koerant

Besoek ons by www.bravoland.co.za, hierdie is nie die amptelike webwerf van die Republiek van Bravoland nie.

23 Apr 2009

GAAN REGISTREER EN STEM

Clem de Klerk

Vir baie volksgenote is dit ’n onnodigheid om as kieser te registreer met die doel om te gaan stem tydens die verkiesing. Daar is ook ’n ander deel Afrikaners wat wil gaan stem tydens die komende Algemene Verkiesing in die hoop dat dit ’n verskil sal maak aan die uitsiglose toekoms wat soos ’n donker onweerswolk op die horison lê en wag.

Waaroor daar egter eendragtigheid heers onder volksgenote, is om te registreer en te gaan stem wanneer die groot dag aanbreek en die stembus genader sal word onder die toesig van die Volksraad Verkiesing Kommissie, reeds beter bekend as die VVK.

Ter wille van ons mense word hiermee enkele belangrike aspekte uitgelig met die doel om volksgenote in te lig oor verskillende aspekte rondom die VVK. Miskien is dit goed om heel voor te begin. Die inisieerder van hierdie belangrike projek, mnr. Paul Kruger, het ’n diepgaande studie gemaak van die volkerereg en die Internasionale regulasies en bepalings wat juis handel oor vryheid, die reg daarop, die bepalings en riglyne wat gevolg moet word voordat so ’n saak op Internasionale vlak beoordeel kan word.

Hierna het hy besef dat die eerste en belangrikste aspek juis is om ons volk te registreer as kiesers om uiteindelik ’n liggaam te vestig wat uit die volk vir die volk ontstaan en beheer word. Om dit te doen, moet wettige, en internasionaal aanvaarde aantal prosedures gevolg word om geloofwaardigheid en aanvaarding te verseker. Dit verklaar waarskynlik waarom die proses van registrasie nie so vinnig geskied as wat menige entoesiastiese volksgenote dit sou wou sien gebeur nie.

In die komende maande gaan ’n uitgebreide veldtog van stapel gestuur word met die verwagting om registrasie beamptes in elke dorp of stad aan te wys. Selfs die aanstel van sulke beamptes is ’n moeisame taak, want die land is groot en wyd, die arbeiders min en die oes is groot. Die geweldige groot uitgawes wat gepaard gaan met die registreer van kiesers en die aanstelling van registrasie beamptes, stem tot ernstige kommer.

Stel u voor – u skakel die naaste registrasie beampte met die versoek dat u geregistreer wil word. Die beampte moet met die brandstofprys soos dit tans is, die tog aandurf, in sy vrye tyd, met sy eie voertuig en brandstof, en dit om u en u gade te registreer. Hy is nog besig met jou registrasie dan skakel iemand anders met dieselfde versoek, sowat 20 km. verder, en voor hy daar is, skakel die volgende persoon….. en op die ou end het die beampte 20 mense geregistreer teen ’n brandstof rekening van R300-00. Môre herhaal die proses homself. Hoe lank kan hierdie persoon volhou om die kosbare werk te doen?

Die voorafgaande is ’n voorbeeld van hoe moeisaam die proses is. Daardie proses kan redelik bespoedig word as u en ek, ons wat trotse Bravolanders is, ’n geringe maandelikse bydrae tot die uitgawes van VVK wil maak. Dit eindig nie daarmee nie. Ons kan ook help deur ander volksgenote te motiveer om ’n finansiële bydrae te maak. Meer nog, ons kan vra om op te tree as registrasie beamptes. Ons kan selfs aanbied om op te tree as ’n inligtings beampte wat navrae in verband met die VVK. kan hanteer. Deur dit te doen, maak u die werklas van die VVK soveel minder.

Bravolanders is mense wat nie terugstaan vir nuwe uitdagings nie – hierdie uitdaging is ook nie te groot om met sukses deur te voer nie, en daarom het ons ’n plig en verantwoordelikheid teenoor ons volk wat smag na die vryheid in ons eie land, waar volksvreemdes nie is nie, en waar die toekoms soos die môrester se glans op ons wag. Kom ons registreer as kiesers, of as registrasie beamptes.

No comments: