Die Republiek van Bravoland se e-koerant

Besoek ons by www.bravoland.co.za, hierdie is nie die amptelike webwerf van die Republiek van Bravoland nie.

29 Sept 2009

Paul Kruger nooi jou uit!



So bietjie terugvoer oor die dag. Dit is nou nie meer net 'n dag nie, maar 'n naweek. Die Vrydagaand gaan daar weer vir Oom Paul se standbeeld 'n ampserp opgesit word. Dit is die derde keer wat dit nou gebeur en ons kan seker al van 'n instelling praat. Dit is ook 'n gewilde instelling, verlede jaar het ons bykans 'n 100 mense daar gehad sonder dat ons werklik mense genooi het. Hierdie jaar sal daar verseker meer mense daar wees!

Die ander goeie nuus is dat die beveiliging van Paardekraal klaar sal wees. Wat beteken dat dit nou baie veilig sal wees om daar te kamp. Een van die Paardekraal Verkenners wat ook 'n elektrisiën is, het onderneem om die badkamers met krag en warmwater te voorsien voor 10 Oktober. Gevolglik verwag ons baie meer kampeerders vir daardie naweek. Die reuse bedrag van R75-00 per staanplek per nag sal gehef word. Hierdie bedrag sal gebruik word om die kampgebied verder te verbeter.

Die gewilde skyfskiet sal weer aangebied word en daar sal ook 'n Boeresport-stalletjie wees, waar daar bokmis gespoeg sal word, paal gegooi sal word en ook baksteen gegooi sal word. Deur die loop van die dag sal daar sakressies en toutrek ook wees.

Die gewilde friesperde sal ook weer daar wees en ek het verneem van 'n perdekarretjie waarop oud en jonk sal kan ry.

Aangesien ons Oom Paul se verjaarsdag vier, is daar besluit op 'n hoogs tradisionele fees. Daar kom blykbaar 'n Tannie wat gaan Boerbrood bak. Verskeie Boereorkeste gaan optree waaronder die gewilde Penkoppe ook is. Natuurlik is die Volkspele ook weer daar, want geen fees by Paardekraal sal volmaak wees sonder Volkspele nie.

Van die stalletjies wat al bevestig het is:

Camdix - met hulle militaria-uitstalling.
GK267 - Volkseie-aandenkings
Willie Bienedell -Volkseie boeke
Hutten Buchdienst - Volkseie boeke
Orania beweging - Inligting m.b.t Orania
VVK -Registrasie en inligtingspunt
HVO - Oranjekas, HVO en enige ander inligting m.b.t die Volksekonomie
Verkenners - Inligting oor die Verkenners
CVO Brandwag - Inligting oor die CVO-bestel

Die kosstalletjies sal deur verskeie volkseie kerke behartig word.

Persone wat die fees bywoon is welkom om in tradisionele drag te kom, ons volk het niks om voor skaam te wees nie en gevolglik sal ons met trots ons erfenis uitleef!

No comments: