Die Republiek van Bravoland se e-koerant

Besoek ons by www.bravoland.co.za, hierdie is nie die amptelike webwerf van die Republiek van Bravoland nie.

27 Oct 2009

Vergewe en vergeet -- Totius

Dat gij niet vergeet de dingen die uwe
ogen gezien hebben
(Deuteronium 4:9)

Daar het 'n doringboompie
vlak by die pad gestaan,
waar lange ossespanne
met sware vragte gaan.

En eendag kom daarlanges
'n ossewa verby,
wat met sy sware wiele
dwars-oor die boompie ry.

"Jy het mos, doringstruikie,
my ander dag gekrap;
en daarom het my wiele
jou kroontjie platgetrap."

Die ossewa verdwyn weer
agter 'n heuweltop,
en langsaam buig die boompie
sy stammetjie weer op.

Sy skoonheid was geskonde;
sy bassies was geskeur;
op een plek was die stammetjie
so amper middeldeur.

Maar tog het daardie boompie
weer stadig reggekom,
want oor sy wonde druppel
die salf van eie gom.

Ook het die loop van jare
die wonde weggewis -
net een plek bly 'n teken
wat onuitwisbaar is.

Die wonde word gesond weer
as jare kom en gaan,
maar daar die merk word groter
en groei maar aldeur aan.

1 comment:

Anonymous said...

Die koninkryk van die hemele het naby gekom.
God het jou lief. Lees jou Bybel.